NGKN Moderamen Brief aan Gemeentes en Gemeentelede
- Andre Mouton
- Apr 22, 2024
- 6 min read
10 Maart 2024
Alle Kerkrade en lidmate van die Ned. Geref. Kerk in Namibië
Geliefdes, die leierskap van ons Namibiese Sinode, die moderamen (bestaande uit die verkose moderatuur saam met twee kerkraadslede en twee leraars uit elke ring) wil graag u instemming kry rakende die herdefiniëring van ons verhouding met die Algemene Sinode.
Waaroor gaan die herdefiniëring van ons verhouding met die Algemene Sinode?
Ons gee vir julle in Bylaag A agtergrond oor ons NGKN sinode se besluit Maart 2022 en die pad wat daarna met die Algemene Sinode geloop is tot en met die vergadering van die Algemene Sinode in Oktober 2023.
In Bylaag B gee ons vir julle die besluit wat ons moderamen in November 2023 geneem het na afloop van die vergadering van die Algemene Sinode in Oktober 2023. Daardie besluit vra dat ons ons verhouding met die Algemene Sinode moet herdefinieer.
Daar is ander inligting wat meer agtergrond bied. Ter wille van spasie word die inligting nie in die skrywe ingesluit nie, maar is by die Sinodale kantoor op aanvraag beskikbaar. ‘n Lys van die inligting word as Bylaag C aangeheg.
Wat is nou op die tafel vir kerkrade en gemeentes?
In die lig van al bogenoemde het die moderamen op 20 Februarie ‘n proses besluit geneem. Dit beteken dat ons ‘n voorstel op die tafel sit waaroor ons gemeentes se instemming vra.
Die prosesbesluit:
In die lig van God se Woord is die Ned. Geref. Kerk in Namibië oortuig dat:
• ons in gehoorsaamheid aan die Here ons roeping verstaan om volwaardig die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Namibië te wees;
• en wel nie langer bekend sal staan as een van die deelnemende kerke van die vergadering van die Algemene Sinode nie;
• om met ‘n krities-profetiese stem in kontak te bly met die Gereformeerde familie in Suidelike Afrika;
• en rig ‘n versoek om waarnemerstatus by bepaalde vergaderings en taakspanne van die Gereformeerde familie in Suidelike Afrika met die oog op tersaaklike samewerking en koördinasie met die oog op onder andere kuratorium- en opleidingkapasiteite.
Ons versoek aan kerkrade
Ons versoek kerkrade om asseblief die gemeentes in te lig oor die voorstel en die gevoel van die gemeente te toets. Elke kerkraad besluit self hoe hulle die saak in hul gemeente gaan hanteer. In die lig van die reaksie van die gemeente, moet kerkrade dan asseblief voor einde Mei 2024 aan die onderskeie ringe terugvoer gee.
Wat behels die terugvoer?
Kerkrade dui aan
Is daar ‘n algemene instemming rakende die proses besluit wat die moderamen op die tafel sit.
Indien daar nie algemene instemming is nie, wat is die besware of probleme?
Is daar ander voorstelle of opsies wat oorweeg moet word om ons verhouding met die Algemene Sinode te herdefinieer.
Na aanleiding van die terugvoer uit al die gemeentes sal die moderamen dan bepaal wat die volgende stap in die proses moet wees. Die proses moet vanjaar teen November afgehandel wees sodat ons as Sinode DV volgende jaar Maart ‘n finale besluit kan neem.
Verduideliking van die vier sake in die moderamen se prosesbesluit.
In die lig van God se Woord is die Ned. Geref. Kerk in Namibië oortuig dat:
• ons in gehoorsaamheid aan die Here ons roeping verstaan om volwaardig die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Namibië te wees;
Sedert 1957 is ons ‘n selfstandige kerk. Eers was ons die NG kerk in Suidwes Afrika en vanaf 1991 die NG kerk in Namibië (NGKN)
Die Here roep ons om kerk in Namibië te wees en hier die evangelie van Jesus Christus te verkondig en te leef sodat sy koninkryk in hierdie land kom. Dikwels help die besluite van die Algemene Sinode ons nie met die praktiese uitlewing van ons plaaslike roeping nie. Hier is wel ander kerke wat deur die wil van die Here ook hier geplaas is en dieselfde roeping het as ons. Baie van hulle is in getalle minder as ons en sukkel veral op die platteland met hulle bediening.
Ons glo dat die Here wil hê dat ons met hierdie broers en susters van ons moet hande vat en mekaar moet help om ons gesamentlike roeping in Namibië te leef. Ons sinode het reeds in 2016 besluit om ons te beywer vir die vestiging van ‘n Reformatoriese Geloofsgemeenskap in Namibië. (Reformatories = kerke met dieselfde belydenis as ons) Die tyd is nou hier dat dit moet gebeur.
Om hier in Namibië nuwe bande (selfs ‘n eenheid) met ander kerke te vorm, gaan in die praktyk vra dat daar ‘n afstand tussen ons en die Algemene Sinode moet kom. Dit kan ‘n klomp kerkregtelike prosesse makliker maak. Van die kerke hier het ook nie vrede met besluite van die Algemene Sinode en teologiese strominge daar nie.
Daarom...
In die lig van God se Woord is die Ned. Geref. Kerk in Namibië oortuig dat:
• ons nie langer bekend sal staan as een van die deelnemende kerke van die vergadering van die Algemene Sinode nie;
Dit beteken dat ons op grond van Kerk Orde artikel 37 uit die verband tree met die Algemene Sinode.
Artikel 37 bepaal: Dit staan die samestellende kerke vry om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts, uit die algemene sinodale verband te tree wanneer hulle so ’n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.
• om met ‘n krities-profetiese stem in kontak te bly met die Gereformeerde familie in Suidelike Afrika;
Al wil ons uit verband tree met die Algemene Sinode, is die bedoeling glad nie om in isolasie te leef nie. Ons is en bly deel van die liggaam van Christus oor die wêreld heen. Ons het ander kerke nodig, kan by hulle leer en sal graag wil hê dat hulle vanuit die Woord van die Here met ‘n krities-profetiese stem teenoor ons sal optree en ons help om getrou aan Christus en sy woord te bly.
Ons sal graag ook dieselfde rol wil speel teenoor ander kerke, veral die Gereformeerde familie in Suidelike Afrika.
Dit beteken ook dat ons as ‘n onafhanklike NG Kerk self kan besluit op watter manier en met watter kerke ons in verhouding wil tree.
• en rig ‘n versoek om waarnemerstatus by bepaalde vergaderings en taakspanne van die Gereformeerde familie in Suidelike Afrika met die oog op tersaaklike samewerking en koördinasie met die oog op onder andere kuratorium- en opleidingkapasiteite.
Soos reeds aangedui wil ons nie in isolasie leef nie. Ons is ook diep bewus daarvan dat omdat ons so min is, is ons kapasiteite ook min, veral as dit kom by teologiese opleiding. Daarom wil ons in kontak bly met ander Gereformeerde opleidingsentrums, by hulle leer en seker maak dat die kwaliteit van ons opleiding op standaard bly.
Ons bly biddend in gesprek
Ons is bewus daarvan dat kerkrade en gemeentes nie kon deelneem aan al die baie gesprekke wat oor die saak plaasgevind het nie. Daar kan dus ‘n klomp vrae of onduidelikhede wees. Ons vra daarom dat julle die vrymoedigheid moet neem om met ons in gesprek te bly, vrae te vra en onduidelikhede uit te klaar. Indien ‘n kerkraad die behoefte het dat van ons na julle toe moet kom om in persoon die saak te bespreek, sal ons dit met graagte doen.
Ons is bewus daarvan dat daar reeds verskillende standpunte en emosies is oor die aangeleentheid. Ons vertrou almal soek die beste belang vir die toekoms van die kerk. Daarom is dit van wesenlike belang dat ons in gemeentes, kerkrade, ringe en as sinode met groot deernis en respek na mekaar luister. Hoe ons mekaar hanteer en na mekaar luister, gaan in ‘n groot mate bepaal hoe ons na God luister.
Dit gaan oor die toekoms van ons kerk en die eer van Jesus, die Hoof van die kerk. Daarom is dit belangrik dat ons almal moeite sal doen om baie oor die saak te bid.
Bid saam met ons dat:
· die Here vir ons ‘n gees van onderskeiding en wysheid sal gee.
· ons Here Jesus sigbaar sal word in die wyse en gesindheid waarmee ons saam die proses hanteer asook in die finale uitkoms van die proses.
· ons mekaar sal vashou, want ons is in Christus mekaar se familie.
Met seënwense van die moderamen
Johannes Maritz (voorsitter)
Lede van die taakspan vir wie julle kan kontak:
De Wet Strauss 0812423867
Christo van Heerden 0812990479
Dubois du Toit 0814013261
Koos Keyser 0851280588
Johannes Maritz 0811270495
Nederduitse Gereformeerde Kerk in Namibië
Dutch Reformed (N.G.K) Church in Namibia
Sinodale Kantoor Office of Synod
Posbus / PO Box 389 Tel./Phone: +264(0)61-374 350
Windhoek Faks / Fax: +264 (0)88 656 1727
Namibia
Ek sal dit waardeer as bylae A en B vir my gestuur kan word.
Ek is ook nie vertroud met die redenasies vir die besluite vir 1957 en 1991 nie. In hoeverre verskil die beoogde besluit daarvan?
Groete