BYLAAG B – Die besluit van die moderamen November 2023
- Andre Mouton
- Apr 22, 2024
- 1 min read
Die sinode van Namibië se Taakspan Matteus 18 was getaak met die opdrag om namens die sinode van Namibië die Algemene Sinode van die NG kerk op te roep tot hartgrondige bekering (2022 Sinode besluit verwys vir omskrywing). Indien hartgrondige bekering nie sou plaasvind nie, is dit die voorneme van die Namibiese Sinode om kragtens Art37 van die NG kerkorde uit die huidige verband met die NG kerk se Algemene Sinode te tree.
Die Taakspan Matteus 18, in oorleg met die Namibiese moderamen, oordeel dat genoegsame bekering nie by die Algemene Sinode plaasgevind het nie.
Die Namibiese moderamen oordeel dus dat die Namibiese besluit van 2022 van krag word deur middel van die aktivering van die proses van herdefiniëring van die verhouding met die Algemene Sinode.
Die proses ter uitvoering van bogenoemde beginselbesluit geskied soos volg, dat:
o 'n taakspan aangestel word om in die lig van o.a. Artikel 37, Artikel 32 en ander moontlikhede die herdefiniëring van die verhouding met die Algemene Sinode aan te beveel in lyn met die gees van Namibië se 2022 besluit.
o 'n gespreksdokument – goedgekeur deur die moderamen – rakende die teologiese afstand tussen Namibië en die Algemene Sinode, sowel as die moontlikhede en implikasies vir die Namibiese Sinode op te stel, wat deur elke gemeente bespreek sal word met die oog op terugvoer na die taakspan en moderamen
o die taakspan, in oorleg met die moderamen, formuleer voorstelle vir die 2025 Namibiese Sinode waar die proses finaal afgehandel word.
o die taakspan lê hul eerste vorderingsverslag aan die moderamen voor teen 20 Feb. 2024
o alle finale terugvoer moet aan die moderamen voorgelê word teen November 2024
Comments