BYLAAG A - Die besluit van die Namibiese sinode en die uitvoering daarvan
- Andre Mouton
- Apr 22, 2024
- 4 min read
Die sinode van Namibië het in 2022 by ’n sinodevergadering in reaksie op ’n voorstel van Kalkrandgemeente besluit om die “Jesuspad van Matt 18 met die Algemene Sinode (AS) end-uit te stap tot die mate dat uit die band van die Algemene Sinode getree word op grond van Artikel 37”. Die opdrag het ook ‘n tydlyn van ses maande en sperdatum van November 2022 ingesluit[1].
Die oproep tot bekering het geskied aan die hand van die Matt. 18 taakspan se herhaalde gesprekke by die AS se dagbestuur, die Algemene Sinode Moderamen (ASM), om die 3 punte van beswaar uit te wys (punt 3 van Bylaag 1):
1. Die onskriftuurlikheid, onkerkordelikheid en onuitvoerbaarheid van die AS se 2019 selfdegeslagverhoudings besluit.
2. Die bekommernis oor teologiese opleiding – dat ons teologiese studente nie voldoende kerk-eie opleiding kry nie, en veral dat daar nie genoegsame toesig gehou word oor die leer van NG teologiese dosente nie.
3. Die gevolglike wantroue wat daar van grondvlak af in die kerklike strukture ontstaan het.
Na die aanvanklike 6 maande vir die uitvoering van die besluit uitgeloop het, het die Moderamen in November 2022 besluit dat dit waarde het om die Matt 18-pad end-uit te stap tot en met die vergadering van die Algemene Sinode in Oktober 2023. Die Namibiese Sinode het reeds in 2016 ‘n duidelike Bybelse getuienis oor selfdegeslagverhoudings aanvaar en net so ook ‘n duidelike getuienis oor Skrifgesag en -gebruik. Hiermee saam het die Moderamen besluit om duidelike getuienisse in die vorm van beswaarskrifte (gravamina) en beskrywingspunt voor te lê by die sitting van die Algemene Sinode in Oktober 2023. Met die Die bedoeling hiermee was dat dit die Algemene Siode in 2023 sou help om die toepaslike rigtingaanpassings te maak, wat die tekens sou wees van bekering. Die onderwerpe het onder andere ingesluit:
- Selfdegeslagverhoudings en seksualiteit
- Gawe en geleentheid van selibaatskap
- Gesag en Rol van die Bybel
- Aard en funksie van die huwelik
- Verskeie punte rakende die onmoontlikheid en onuitvoerbaarheid van die 2019 AS besluit
- Voorstelle oor die leierskap en samestelling van die Taakspanne van die Algemene Sinode.
Intussen het die taakspan Matt. 18 werk gemaak van die vyf opdragte van die 2022 besluit (punt 6 van Bylaag 1):
1.1 Uitklaring van regskwessies rakende artikel 37: Die Algemene Taakspan Regte (ATR) het na aanleiding van o.a. die aanvraag van die Namibiese taakspan regte, ’n lywige dokument saamgestel wat Art. 37 volledig bespreek (sien Bylaag 2)
1.2 Uitklaring rakende ‘n kerkordelike herindeling van gemeentes van die NGK: Die besluit van die AS 2023 aangaande selfdegeslag verhoudings (Bylaag 3 punt 5) stipuleer dat Art. 32 van die kerkorde uitgebrei word sodat gemeentes toegelaat word om oor sinode grense heen te hergroepeer (nie meer net geografies nie). Ons is die ATR afwagtend om hierdie proses uiteen te sit.
1.3 Uitklaring rakende toekomstige teologiese opleiding: Ons is in die begunstigde posisie om in Namibië te beskik oor ons eie kuratorium wat legitimasie van predikante kan behartig, ook het ons toegang tot NETS (Namibian Evangelical Theological Seminary) wat nog Skrifgetroue teologie doseer. Waar predikante uit ander oorde aansoek doen by Namibiese gemeentes sal ons kuratorium verder toesien dat hulle belyn is met ons Sinode se amptelike teologiese standpunte.
1.4 Uitklaring rakende finansiële kompensasie vanaf AS: Daar was ondersoek of, sou Namibië onttrek uit die AS, daar ’n tipe bruidskat aan ons verskuldig is – dit is wel nie die geval nie.
4. Deeglike kommunikasie met gemeentes om hulle te betrek in die besluit en onderskeie prosesse: Daar is op verskeie punte van die proses van Matt. 18 terugvoer gegee aan gemeentes. Die gevoel op die Namibiese moderamen vergadering van 7 November 2023 was dat voorgegaan word om gemeentes so goed as moontlik in te lig en te betrek by ‘n proses wat nie net die sinode nie, maar ook elke gemeente raak[2].
Die Namibiese afvaardiging het van die sitting van die Algemene Sinode teruggekeer met ‘n verskeidenheid van indrukke wat gewissel het van teleurstelling en verslaenheid, tot dankbaarheid en uitgedaag-wees. Nie veel het gekom van die bespreking van die beswaarskrifte en/of beskrywingspunte wat die Nambiese Sinode ingedien het nie. Geen geloofsonderskeidende gesprekke waar saam gesoek word in die lig van die Here se Woord ten opsigte van die brandpunte waaroor Namibië sedert 2022 met die Algemene Sinode die pad van Matt 18 wou stap nie.
[1] - Hier volg die Persverklaring vanuit die sinodevergadering insake die Matt 18 & Artikel 37 besluit:
Die Namibiese sinode is van voorneme om die pad van kerklike tug en dissipline met die Algemene Sinode te stap soos uitgespel in Jesus se woorde in Matteus 18:15-17. Die Namibiese sinode oordeel dat die Algemene Sinode nie die breë kerk met kerklike leierskap gedien het nie. Indien die pad van tug en dissipline nie binne die volgende ses maande uitloop op ‘n vaste voorneme om bepaalde besluite van die Algemene Sinode te herroep nie, sal die Namibiese Sinode haar band met die Algemene Sinode losmaak. In kerkorde taal word daarna verwys as die Artikel 37-proses .
Die Namibiese Sinode wys veral op die besluite oor selfdegeslagverhoudings en die bestuur van teologiese opleiding aan die fakulteite wat die kerk toenemend vervreem. Die Namibiese Sinode sal in die komende maande hulle NG gemeentes betrek en toelig in die verskillende prosesse wat hierdie ingrypende optrede tot gevolg het. Namibië vertrou dat die Algemene Sinode begrip sal toon en tot inkeer sal kom. Die Namibiese Sinode nooi ook ander streeksinodes uit om deel te neem aan hierdie proses en ontmoeting met verteenwoordigers van die Algemene Sinode.
[2] Sien ook die deurlopende voorbeelde van kommunikasie na gemeentes:
· 13 Junie 2022 – video-onderhoud met ds. De Wet Strauss
· 13 Maart 2023 – video-onderhoud met taakspan Matt. 18
· Ringsgesprekke gedurende Augustus-September 2023 – onder leiding van dr. De Wet Straus en br. Willem Burger om toeligting te gee aan gemeentes oor die stand van sake in oploop na die Oktober Algemene Sinode.
· ’n Opsomming van die finale beswaarskrifte wat aan die AS gestuur is, is ook aan al die predikante in die Namibiese sinode gesirkuleer.
Comments