Wanneer word die lyn van dwaling oorskry
- Andre Mouton
- Dec 23, 2024
- 3 min read
Die grens waar verskille in die kerk die lyn van dwaling oorskry, lê in die balans tussen vryheid in sekondêre sake en getrouheid aan die kernwaarhede van die geloof. Dit verg 'n duidelike begrip van watter leerstellings “essensiëel” is en watter “oop” is vir verskillende interpretasies. Hier is riglyne om hierdie grens te bepaal:
Kernwaarhede van die Christelike Geloof
Hierdie leerstellings is nie onderhandelbaar nie en vorm die fondament van Christenskap:
God Drie-Enig: Die geloof in God Algemene Sinode Vader, Seun, en Heilige Gees.
Jesus Christus: Sy goddelike natuur, menswording, sondelose lewe, plaas-vervangende dood, liggaamlike opstanding, en wederkoms.
Verlossing deur genade deur geloof: Die mens word gered deur God se genade deur geloof in Christus, nie deur werke nie (Efesiërs 2:8-9).
Skrifgesag: Die Bybel Algemene Sinode God se Woord en die hoogste gesag in leer en lewe.
Wanneer verskille hierdie kernwaarhede ondermyn, beweeg dit in die rigting van dwaling.
Sekondêre Sake: Interpretasies en Praktyke
Hier is ruimte vir verskille sonder om eenheid te verbreek:
· Interpretasie van sekere Bybelse teksgedeeltes (bv. skepping, eindtye).
· Liturgiese style en aanbiddingsvorme.
· Sekere morele of kulturele kwessies, solank dit die kernwaarhede nie bedreig nie.
Wanneer verskille in sekondêre sake tot verdeeldheid lei, is dit dikwels 'n kwessie van “houding” eerder as “inhoud”. Elkeen se houding oor verskille in sekondêre sake (soos liturgiese voorkeure, interpretasies van spesifieke Skrifgedeeltes, of kulturele gebruike in die kerk) het 'n beduidende impak op hoe verdeeldheid binne die liggaam van Christus benader en bestuur kan word.
As jou houding versoenend is: Eenheid bo uniformiteit
Wanneer ons 'n houding handhaaf wat fokus op versoening en begrip, eerder as om sekondêre verskille te beklemtoon, bevorder dit eenheid in die kerk. Ons wys dat eenheid nie afhanklik is van volledige ooreenstemming nie, maar eerder van 'n gedeelde fokus op Christus.
Binne'n versoenende houding word verskille gesien as 'n geleentheid om van mekaar te leer. Dit lei daartoe dat konflik minder intens word, aangesien die klem verskuif van wie "reg" is na hoe almal tot die opbou van die liggaam kan bydra. Met so 'n houding kan die kerk verenig bly selfs te midde van uiteenlopende sienings oor sekondêre sake. Romeine 14:1-4 moedig gelowiges aan om mekaar te aanvaar in sekondêre sake omdat "elkeen sy eie oortuiging voor die Here het."
Sou ons egter 'n houding aanneem wat sekondêre sake as "ononderhandelbaar" beskou, loop ons die risiko om verdeeldheid te versterk. Hierdie benadering kan lei tot skeiding, wantroue, en selfs vyandigheid. Lidmate kan hulself verder polariseer en kan die kerk se getuienis in die gemeenskap ondermyn word aangesien verdeeldheid dikwels as swakheid gesien word en sekondêre sake dan primêre evangeliese waarhede kan oorskadu, soos bv. die dood en opstanding van Christus. Paulus waarsku in 1 Korintiërs 1:10-13 teen verdeeldheid, en herinner die kerk dat hulle almal aan Christus behoort, nie aan individuele leiers of ideologieë nie.
Ons reaksie op verskille is 'n model vir ander gelowiges. As mens reageer met verdraagsaamheid, nederigheid, en liefde, inspireer jy dieselfde in ander. As jy egter onverdraagsaam of oordelend is, sal dit makliker wees vir ander om dieselfde gedrag aan te neem. Wanneer ons ‘n positiewe houding het erken ons dat, al stem ons dalk nie oor hierdie sekondêre punte saam nie dit nie dat ons nie saam aan die koninkryk van God kan werk nie. Ons wys respek vir die ander persoon se standpunt sonder om my eie geloofswaarhede prys te gee.
Ons houding beïnvloed nie net menseverhoudings nie, maar ook die geestelike atmosfeer in die kerk. 'n Nederige en liefdevolle houding skep 'n omgewing van vrede en groei, terwyl 'n verdelende of harde houding vrees en spanning veroorsaak. Efesiërs 4:2-3: "Wees altyd nederig, vriendelik, en geduldig. Verdra mekaar in liefde, en beywer julle om die eenheid wat die Gees gee, te bewaar deur in vrede met mekaar te lewe."
Ons houding bepaal of sekondêre verskille 'n bron van verdeeldheid of 'n geleentheid vir groei en wedersydse verryking word. Deur nederigheid en liefde te beoefen, help ek die liggaam van Christus om sterker en meer verenig te wees.
Commenti