top of page

Ek is nie konserwatief of liberaal nie


ree

Vir ’n lang tyd het ek gedink ek moet myself inpas in ’n eenvoudige keuse: óf ek is konserwatief, óf ek is liberaal. Ek het aanvaar dat as ek nie by die konserwatiewe kamp hoort nie, ek noodwendig in die liberale een moet val. Maar dit het my net vasgevang, en ek het met tyd besef dat ek eintlik nie een van die twee is nie. My geloof het ’n ander grond en ’n ander ritme.

Die debat in ons kerk bly egter dikwels in daardie ou web vasgespin. Aan die een kant staan konserwatiewe wat glo hulle beskerm die waarheid; aan die ander kant staan liberales wat glo hulle bevorder vryheid en insluiting terwyl elke kant die ander beskou as ’n bedreiging. Maar die vraag is: is dit regtig nog ons werklikheid?

Wat ek deesdae al sterker begin raaksien, is dat die kerk stilweg besig is om aan te beweeg. Nie na ’n meer liberale posisie nie, maar na iets anders: ’n post-liberale ruimte waar Christus weer die sentrum is. Hier begin ons besef dat die stryd tussen konserwatief en liberaal nie die volle waarheid oor ons geloof vertel nie.

Wanneer ek luister hoe mense vandag steeds praat van “progressiewe leiers” as die vyand of selfs false profete, dink ek: dalk is dit net die laaste poging om die bus te probeer stop. Miskien is dit die agterosse wat sukkel om te sien dat die Here self die pad vorentoe oopmaak. Nie na die links of regs nie, maar na die kruis in die middel.

Vir my het dit bevrydend geraak om te besef dat ek nie hóéf te kies tussen konserwatief of liberaal nie. My roeping is nie om ’n kamp te verdedig nie, maar om in Christus se lig te leef en ander daarheen te nooi. Dit beteken nie ons verskille verdwyn nie; dit beteken wel dat ons mekaar nie meer as vyande hoef te sien nie.

Miskien is dit tyd dat ons minder vra: “Is jy konserwatief of liberaal?” en meer vra: “Hoe volg jy Christus, en hoe kan ons dit saam doen?”

 
 
 

Recent Posts

See All

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
Comments

Share Your ThoughtsBe the first to write a comment.
bottom of page