Opening van die Gesprek oor voorgestelde NGKN-hermeneutiek
Na aanleiding van die rondgaande besprekings omtrent die Kerkorde, Reglemente en Hermeneutiek wat in Maart 2027 finaal aanvaar moet word, wil ek graag voorstel dat ons die gesprek oor die voorgestelde NGKN-hermeneutiek ook hier verder voer. Relatief min lidmate en ampsdraers het die geleenthede gebruik sover om die geleenthede by te woon, maar die saak waaroor ons in Maart 2027 moet besluit, raak uiteindelik ons almal.
Dit gaan na my mening oor veel meer as die goedkeuring van ’n teologiese dokument. Dit raak hoe ons as kerk die Skrif lees, hoe ons die belydenis verstaan, hoe ons met verskille omgaan, hoe ons toekomstige predikante vorm en uiteindelik watter soort kerk ons aan ons kinders en kleinkinders nalaat. Ek hoop daarom dat ons die volgende paar weke van tyd tot tyd een kernvraag uit die voorgestelde hermeneutiek hier kan bespreek.
Die bedoeling is geensins om mense teen die NATLAS-dokument te probeer oortuig nie. Inteendeel: daar is baie daarin wat waardevol en duidelik Gereformeerd is. Die vraag is eerder of ons, voordat dit finaal aanvaar word, genoegsaam saam gedink het oor die implikasies daarvan en of ons duidelik verstaan watter hermeneutiese raamwerk ons vir die toekoms van die NGKN aanvaar.
Een van die vrae is byvoorbeeld oor ons identiteit as Nederduits Gereformeerde kerk. Dit beteken nie dat ons nie wyd binne die Gereformeerde en Christelike tradisie kan luister nie. Ons behoort. Maar dit vra wel waarom bepaalde bronne en hermeneutiese tradisies as vertrekpunt gebruik word, hoe hulle met ons eie kerklike en teologiese geskiedenis verband hou, en waar ons doelbewus iets anders kies.
Nog belangriker is die vraag: Watter soort kerk wil ons voor Christus wees?
Vir my behoort die antwoord iets te wees van ’n kerk wat onder die Woord leef; wat Christus in die sentrum hou; wat die Gees se leiding ernstig neem; wat die volle geloof van die kerk bely; wat verantwoordelik en eerlik met verskille omgaan; en wat altyd genoeg nederigheid behou om te erken dat ook ons eie verstaan feilbaar en korrigeerbaar is.
Ons besluit in Maart behoort dus nie bloot ’n besluit óór ’n dokument te wees nie. Dit behoort die resultaat te wees van ’n kerk wat saam geluister, gevra, getoets en onderskei het. Ons probeer saam duideliker hoor wat dit beteken om as ’n Nederduits Gereformeerde kerk onder die Woord en voor Christus te leef.
Ek wil daarom graag die gesprek met ’n eenvoudige eerste vraag begin: Wanneer ons die voorgestelde hermeneutiek in Maart 2027 aanvaar, wat presies meen ons aanvaar ons — ’n hulpmiddel vir verantwoordelike Skrifuitleg, of ’n raamwerk wat voortaan die grense van aanvaarbare uitleg in die NGKN bepaal?
Ek sal graag almal se verstaan hiervan wil hoor — ook waar julle van my of van die gespreksdokument verskil.





Comments