top of page

Gesprek oor 'n Hermeneutiese Grondslag vir NGKN

Nov 12
2 min read

Die huidige voorstel van NATLAS oor ‘n hermeneutiese “beleid” vir die NGKN is nie bloot ’n tegniese handleiding oor hoe predikante eksegese doen nie. (Vra vir jou kerkraad as jy nog nie die dokument onder oe gehad het nie). Dit raak die kerk se Skrifbeskouing, die verhouding tussen Skrif en belydenis, die ruimte vir eksegetiese verskil, die bronne waaruit ons ons hermeneutiek vorm, en uiteindelik hoe die NGKN in die toekoms oor moeilike geloofs- en etiese vrae gaan onderskei. NATLAS self gee aan die raamwerk ’n sterk funksie wanneer dit sê dat eksegetiese vryheid “direk en uitsluitlik” deur hierdie beginsels en voorveronderstellings gerig moet word. Dit maak deeglike gesprek vóór goedkeuring noodsaaklik.

Ek wil oor die volgende paar weke ’n reeks kort gesprekke begin, telkens met een verstaanbare vraag. Die doel is om die hele Namibiese NG Kerk deel van die onderskeidingsproses te maak. Wat ek wil oor praat is die volgende:

1.    Wat besluit ons eintlik in Maart 2027? Is die dokument ’n studiestuk, riglyn, beleidsraamwerk of normatiewe hermeneutiese raamwerk? Wat beteken goedkeuring vir toekomstige prediking, opleiding en besluitneming?

2.    Wie is ons as kerk? As ons onsself kerkordelik as Nederduits Gereformeerd verstaan, wat beteken dit vir ons hermeneutiese vertrekpunt? Waarom gebruik ons Goede & Vorster, Chicago en ander bronne, en watter status het hulle teenoor ons eie NGKN- en Nederduits Gereformeerde hermeneutiese geskiedenis?

3.    Wat staan in die sentrum? Is Christus een hermeneutiese beginsel tussen ander, of die skopus waarbinne ons die hele Skrif hoor? Hoe funksioneer die volle belydenis, en nie net NGB 1–7 nie?

4.    Hoe hanteer ons verskil? Help die raamwerk ons om verantwoordelik saam te onderskei, of kan dit vooraf bepaal watter uitlegte aanvaarbaar is? Is die raamwerk onderskeiding rig of word interpretasie vooraf beheer.

5.    Hoe toetsbaar bly óns? Hoe word die kerk, sy leiers en sy hermeneutiese dokument self onder die Woord gehou? Watter plek kry selfondersoek, die geloofsgemeenskap, die Gees en die moontlikheid dat ons eie huidige verstaan korrigering nodig het?

6.    Wat laat ons na aan die volgende geslag? Watter soort kerk het ons probeer vorm? ’n Kerk wat vas staan onder die Woord, Christus in die sentrum hou, verantwoordelik met verskil omgaan en genoeg nederigheid het om steeds deur Woord en Gees gekorrigeer te word.

Hiermee wil ek alle lidmate van die NGKerk in Namibie uitnooi om deel te neem aan die gesprek - Ek is net n gewone lid van die kerk wat 'n bydra wil lewer dat ons 'n dokument op die tafel kry waarop ons trots kan wees en bowenal Christus as Skopus stel.


 
 
 

Recent Posts

See All

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
Comments

Share Your ThoughtsBe the first to write a comment.
bottom of page