Verskille tussen Twee Kommentare oor Skrifgesag
- Andre Mouton
- Jan 18
- 2 min read
Die afgelope klomp jare binne die NGKerk gemeenskap word gekenmerk deur ‘n ideologiese debat wat uitsluitende posisies vooropstel. Dit word veral nou op ‘n spits gedryf in Namibië hierdie jaar. Wat ek nie kan begryp nie is wat die einddoel van die diskoers is: Is dit om te verdeel volgens ideologiese lyne of is dit om die Algemene Sinode te kaap vir ‘n spesifieke ideologie? Ek het na twee verskillende opsommings van die Algemene-Sinode-2002-Gesag-van-die-Skrif -verslag bekyk en ek dink dit verduidelik die polariteit waarin ons onsself bevind. Ek beveel aan dat julle die verslag lees voor julle die kommentare lees en dan eers miskien hier verder lees.
Dubois Du Toit, Teologiese afstand tussen Nam en AS,(Deel oor 2002) argumenteer dat die 2002-verslag 'n beweging weg van 'n tradisionele gereformeerde Skrifbeskouing na 'n meer liberalistiese benadering is omdat dit die menslike karakter van die Skrif uitwys en daarmee ook dat die Skrif aan foute en interpretasies wat aan tyd en kultuur onderworpe is, voorstaan.
Henco van der Westhuizen in sy publikasie - (Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, hermeneutiek en etiek? (1986–2019), (verwys gedeelte oor 2002) op sy beurt laat die klem val op die Skrifgesag as 'n afleiding van God se gesag. Hy lees die verslag dat dit God as die bron van gesag sien eerder as die teks self. Hy beklemtoon die noodsaaklikheid van interpretasie, waar die Gees werk om die betekenis van die Bybel se feite te openbaar.
Dubois Du Toit wys daarop dat die verslag uitdruklik erken dat die Bybel nie aan historiese of wetenskaplike eksaktheid voldoen nie wat dit verder van 'n tradisionele Skrifbeskouing wegstoot. Henco van der Westhuizen wys dat die verskil tussen feite en interpretasie gesien moet word as 'n sleutel vir hermeneutiek en stel dan dat die betekenis van feite slegs deur interpretasie in afhanklikheid van die Gees ontdek kan word.
As ons dit ten doel het om kerkeenheid na te streef, wil ons graag sien dat ons in die kerkgemeenskap ons standpunte so moet stel dat dit nie eksklusiwiteit bevorder nie, maar ‘n basis van bespreking is. Dubois Du Toit beklemtoon die spanning wat ontstaan het weens, soos hy dit sien, die liberale neigings van die 2002-verslag. Hy sien hierdie verskuiwing as die wortel van die konflik en hy sien dat dit hierdie verskuiwing is wat die breuk veroorsaak: ‘n skeuring tussen tradisionaliste en meer liberale groepe. Die Sinode verslag van 2002 stel egter 'n uitdaging tot kerkeenheid omdat dit verskillende teologiese groepe binne die kerk probeer uitdaag om hulle posisies meer duidelik te definieer en daarmee openlik met ander in gesprek te wees. Dit is in teenstelling met die Dubois Du Toit-posisie.
Henco van der Westhuizen toon die belangrikheid van 'n hermeneutiese benadering wat die Gees se werk in interpretasie insluit en bied moontlikhede vir groter buigsaamheid in hoe verskillende standpunte gehanteer kan word. Die klem op interaksie met mense kan bydra tot groter begrip en insluiting binne die kerk, wat eenheid sal help bevorder. Die twee benaderings illustreer dus hoe verskillende interpretasies van skrifgesag en hermeneutiek óf spanning kan verhoog óf geleenthede vir versoening en dialoog kan skep.
Comments