Ons Vereng die Evangelie
- Andre Mouton
- Aug 26
- 2 min read

Die NGKN se besluit om bande met die NGKSA te verbreek is nie net ’n organisatoriese skuif nie maar ’n geestelike ve
rskuiwing wat die gevaar dra van verenging: Soos ek dit sien word die belydenis van die algemene kerk van ons geloofsbeleidenis, prakties verswak. Die kerk se identiteit word verklein tot ’n spesifieke hermeneutiek en dogmatiese posisie en die getuienis van Christus se eenheid word verduister.
Scot McKnight wys dat kerke die evangelie vernou tot identiteit of dogma eerder as om die volheid van die koninkryk van Christus te verkondig. Sy begrip van die kerk as ’n fellowship of differents is presies wat die NGKN se besluit ondergrawe.
So wys Richard Rohr dat ons vasval in dualisme en dat hierdie manier van dink lei daartoe dat kerke skeur. Die NGKN se isolasie volg presies hierdie patroon. Saam sê hulle dat ’n eng kerk nie ’n getroue kerk is nie. Christus self is groter as ons dogma, en die kerk is ruimer as ons eie groep.
Die podcaster “Council of Trent” se stelling dat Rohr ’n “vals profeet” is, is ironies juis in die lig van ons gesprek dat ’n Vals profeet volgens die Skrif iemand is wat mense van God af weglei, mag soek vir eie eer, en Christus se lig verduister. Rohr se bediening, ten spyte van sy onkonvensionele taal, is juis daarop gerig om Christus weer sentraal te plaas en om gelowiges te probeer bevry van engheid en magsbehoud. Om hom as vals profeet af te maak, is self ’n voorbeeld van die enge, dualistiese denke waarteen hy waarsku. Meer nog: dit is presies dieselfde soort engheid wat ons nou in die NGKN sien, wanneer ander gelowiges of kerklike liggame “onwelkom” verklaar word.
Ek sien ’n gevaar dat ons kerk dieselfde fout maak waarvoor mense Richard Rohr kritiseer. Hy word ‘n vals profeet genoem omdat hy die kerk roep uit engheid en dualisme na Christus self toe. Maar ons eie besluit om ons van die NGKSA af te sny, het ons op ’n pad van engheid geplaas. As ons werklik glo in ’n algemene kerk, kan ons nie voortgaan om ander uit te sluit en ons eie dogma te verabsoluteer nie. Ek vermaan dus in liefde dat ons moet terug keer na Christus as Hoof, en om die eenheid waarvoor Hy self gebid het, ernstig op te neem.”
Die NGKN se uitdaging is om nie self ’n “vals getuienis” van Christus se liggaam te lewer deur ons eie uitsluiting en engheid nie. McKnight + Rohr herinner ons dat Christus se kerk ’n veel ruimer liggaam is as ons eie sekerhede. Council of Trent se fout is sy eng oordeel oor Rohr wat ook presies dieselfde soort engheid is wat alle kerke bedreig, ook ons eie. Die toets van ware profesie is nie dogmatiese strengheid nie, maar of Christus groter word. Rohr se werk, McKnight se waarskuwing, en ons eie belydenis wys almal in dieselfde rigting: Christus moet die sentrum wees, en die kerk moet ruim wees soos Hy ruim is.
Comments