Ons lewe in Jesus se storie
- Andre Mouton
- Jan 18
- 22 min read
Hierdie is 'n referaar wat gelewer was by die NGKN Predikantekonferensie 2024 deur Ds De Wet L Mouton. Die konferensie was gehou op 22 - 24 Oktober 2024 te Ankaweni Safari Ranch buite Windhoek. Die Tema van die konferensie was "van Rusie na Vrugbare Ruimte by die put GEN 26".
Wysheid: Dissipelskap in 'n Narratiewe hermeneutiese proses met spesifieke verwysing na Paul Ricoeur
Die Lewe in die Jesus storie. ‘n Narratiewe reis
Vir Jan Woest was dit belangrik: Hoe leef ek voor die aangesig van God, Coram Deo. Dit is die uitdaging van gelowiges in hierdie wêreld en daarom is dit belangrik hoe ons ons Bron, Die Bybel, moet verstaan (Hermeneutiek) en hoe hierdie bron ons lewens verander in ons navolging van Christus.
“Who we are is articulated through narratives: we make sense of who we are by interpreting (hermeneutics) our life's narratives to articulate our lives into a plot of events, circumstances, people and projects. Through the plot the continuity of a character emerges. Paul Ricoeur
“Textuality cannot be reduced to a set of cultural objects in the world but instead constitutes a fundamental dimension of our being in the world. If this is true, reading is not simply one activity among others but the paradigmatic transaction in which the self engages in a hermeneutics of meaning. But on the other hand, to read is not only to enter the world of the text; it is to enter into the textuality by which the world presents itself to us.” (Ricoeur in Hermeneutics & Phenomonology)
Inleiding
Mense is storiewesens. Alle mense, kommunikeer, vertel en interpreteer die werklikheid in stories. Stories is die garing waarmee mense aanmekaar geweef is en aan mekaar verweef is. Geskiedenis, godsdiens, ideologie word alles deur stories gedra. Ons eie verstaan van en omgaan met die werklikheid gebeur in storievorm. Stories fasineer ons. Ons vertel vir onsself en vir ander die werklikheid in stories.
Narratiewe word gebruik om diskoerse in die politiek en handel (advertensie wêreld) te beïnvloed en in bepaalde rigtings te stuur. Hierin speel die media ‘n belangrike rol. Dink maar aan die “White Monopoly Capital” narratief wat Bell Pottinger gebruik het as deel van Oud-President Zuma se politieke spel.
Die vraag wat gestel word is nie of ons deur narratiewe beïnvloed word nie maar watter narratiewe ons lewens beïnvloed en hoe dit onbewustelik ons lewens rig. Vir die kerk is dit belangrik om die Bybelse narratief, oor die koninkryk van God die opgestane Here, te ontgin en op so ‘n manier aan te bied dat dit gelowiges se lewens vorm en omvorm tot navolgers van Christus. Hiervoor sal ons in die eerste plek narratief sensitief moet wees om die verhale wat ons eie lewens rig, in die oë te kyk. Om die lig van die Jesus se narratief in ons lewens te reflekteer sodat ons as deelnemers aan die koms van die koninkryk aktief deel word van die Jesus verhaal. Hierdie artikel wil op ‘n positiewe manier die insigte van die narratiewe benadering gebruik, nie bloot net om die Bybel se narratiewe aard te ontgin nie, maar ook om die narratiewe proses te ontgin om gelowiges se lewens in lyn met die van Jesus te bring.
1 Paul Ricoeur:
In hierdie artikel steun ek baie op die insigte van Ricoeur. Ek onderstreep hieronder ‘n paar temas uit sy werke wat deurgans gebruik word. Jean Paul Gustave Ricoeur (27 February 1913 – 20 May 2005) was ‘n Franse filosoof en teoloog wat ‘n groot bydrae gelewer het tot Narratiewe hermeneutiek.
1.1 Die Narratiewe identiteit
Volgens Ricoeur is die mens se identiteit ten diepste relasioneel, ons is iemand in verhouding met en ter wille van ander: “who we are is articulated through narratives: we make sense of who we are by interpreting our lives in narrative form; we form narratives to articulate our lives into a plot of events, circumstances, people, and projects. Through the plot, the continuity of a character emerges.
Ons plaas, ons lewe in die plot van ‘n storie, wat deurlopend plaasvind en so word die karakter van ons eie storie herhaaldelik gevorm en hervorm. Dit is belangrik om te verstaan dat ons nie net agter kom wie ons is deur stories nie, maar dat ons, ons eie identiteit vorm deur die narratiewe oor ons self.
Kate Mclean ‘n spesialis in identiteitsontwikkeling sluit hierby aan, dat mense deur die proses van vertelling van hul lewenservarings ‘n bewussyn bou van hoe die verlede meegewerk het om die persoon wat jy vandag is, te wees en hoe beide die verlede en hede wys na ‘n ontluikende toekoms. Ons ontluikende identiteit word gevorm deur ons lewensverhale. Kate C. McLean (2010)
1.2 Die tweede naïwiteit
“Beyond the desert of criticism, we wish to be called again” Paul Ricoeur. The symbolism of Evil.
Die eerste naïwiteit is om die verhaal op sigwaarde te aanvaar binne die leser se eie konteks, maar dit is gou duidelik dat ons nie dieselfde verstaan van die heelal het as wat die antieke skrywers gehad het nie. Dit skep die probleem van afstand tussen die leser en die teks. Hierdie afstand moet oorbrug word deur 'n interpretasieproses. Die leser beweeg deur ‘n proses van vraagstelling wat ‘n kritiese ondersoek meebring. Hierdie kritiese metodes sluit in: tekskritiek, historiese kritiek, argeologie en psigo-analiese. Die vraag by Ricoeur is: "wat dan?".
Die kritiese proses van objektivering laat die leser leeg, sonder betekenis. Daarom moet die leser deur die kritiese fase beweeg na ‘n tweede naïwiteit om te bepaal wat werklik betekenisvol is. “One must come to a point of realization that the text functioning as symbols shows us what the world was like in a way that history or science cannot”(M Bana : 2023.)
1.3 Die hermeneutiek van dialektiek
Ricoeur skryf : “The narrative Identity takes part in the story’s movement, in the dialectic (interaction) between order and disorder.”
Een van die grootste waarhede wat ek by Ricoeur leer is hoe belangrikheid gesprek is. Hy skram nie weg van die kritiese proses van dekonstruksie nie, maar omarm die waarde van die kritiese fase. Die kritiese fase (hermeneutics of suspicion) kan ons help om beter te verstaan, maar nog nie om dit te interrpreteer nie. Dit is waarom ons ook die “Hermeneutics of Faith” nodig het, om toe te laat dat die teks self na ons toe kom. Dit vra ‘n eerlike omgaan met jouself en al die stemme rondom jou.
2. Narratiewe Hermeneutiese proses
Die Bybel is God se storie met ons in God se wêreld. God maak ons deur Jesus Christus deel van hierdie storie. Ons leef aan die eenkant uit die Bronstorie, die Bybel, en aan die anderkant leef ons in ons eie lyf en in ‘n wêreld wat heel anders lyk. Hoe leef ons binne en uit hierdie bronstorie die toekoms in? Ek wil deur middel van hierdie artikel aantoon dat ‘n Narratiewe Hermeneutiese proses gevolg kan word om gelowiges te help om die wysheid van Jesus te bekom en te beoefen om sodoende ‘n geïntegreerde lewe te ly.
Dit is juis die spanning wat ons in die ”reeds”, en “nog nie”, kry, wat die energie tot dieper verstaan verskaf. Die leser word altyd weer terug gebring na die teks toe. Elke keer as ons met die teks omgaan en daaruit leef , verstaan ons die teks weer opnuut.
Second naiivity be Ricoeur.
Waarom lees ons die Bybel? Is dit om insigte en kennis van God te bekom? Glo ons dat ons met genoeg kennis ons lewens kan inrig in oorstemming met dit wat die Bybel vir ons voorskryf?
By die postmoderne mens wat geneig is om waarhede subjektief te sentreer rondom die self, ontstaan ‘n proses van vervreemding. My waarheid soos ek dit sien; soos ek dit ervaar word die norm en alles word relatief tot die self. (Descartes Cogito, ergo sum : I think therfore I am.) Die postmoderne mens het die “ek dink” vervang met “voel/ervaar”, daarom is ek. Vir Riceour is nie een van hierdie ‘n beskrywing van ons identiteit nie. Want Identiteit word nie binne die mens self gesoek nie maar in verhouding met ander, met God, gemeenskap, tradisie en binne die ruimtes waarin die mens leef, dit gee betekenis aan sy lewe.
Narratiewe omgaan met die teks funksioneer anders as blote ontginning van inligting en kennis. Eugene Peterson beskryf dit uitmuntend in “The Jesus Way” wanneer hy sê dat ons kontemporêre wêreld, kerklik en buite kerklik, ‘n voorkeur verleen aan feitelike inligting bo die verloop van ‘n verhaal. Ons is heeltyd op soek na onpersoonlike inligting en noem dit “wetenskaplik” of “teologies”, sodat ons beheer daaroor kan kry. Dan sê Peterson: “We don’t live our livers by information; we live in relationships, family-of-faith relationships in the context of a community of men and women, each an intricate bundle of experience, motive and desire, and in the presence of a personal God who has designed us for justice and salvation.” (E Peterson:2009)
Deur die narratief te volg, of anders gesê, om deur die storie ingetrek te word, bring ‘n ander dinamika van verstaan. ‘n Storie maak jou deel van ‘n wêreld sonder dat jy dadelik hoef te weet hoe daardie wêreld werk. Jy identifiseer met die karakters in die verhaal, jy kom naby aan die persoon. ‘n Emosionele band ontstaan tusssen die karakter en die leser. Die leser leer om na die wêreld te kyk deur die oë van die die karakters. Jy sien ander deur hulle oë. Uiteindelik kyk jy deur die karakters na jouself. Die werklikhede van ons lewens word in ‘n verhaalstruktuur gegiet. Op hierdie wyse help verhale ons om betekenis aan ons eie lewens te gee.
Weereens wil ek vir Peterson hier aanhaal: “Telling a story, is the primary verbal way of accounting for life, the way we live in an actual day-by-day reality. There is no (or few) abstractions in a story – story is immediate, concrete plotted, relational and personal. And so when we lose touch of our lives, our souls – our moral, spiritual, God-personal lives – story is the best verbal way to get us back in touch again. That is why God’s word is so prodigal (oorvloedig) in its storytelling.” (E Peterson:2009)
Met dit ingedagte is dit logies dat ons model van verstaan, hermeneutiek, ‘n narratiewe aanslag moet hê. Ons interpreteer ‘n storie met ‘n nuwe storie. Ons vertel bring betekenis tot stand. Selfs in ons wetenskaplike formules en metodes, is stories vol simbole met intrinsieke betekenis. Hierdie simbole is deursigtig en vorm die lens waardeur ons na ons werklikheid kyk.
2.1 Die komplekse landskap van deurkruisde verhale.
Geskiedenis is ‘n legkaart van geskiedkundige gebeure en word inmekaar gepas deurdat dit deel word van ander gebeure, kleiner (meta) stories wat dan deel word van ons groter, geïntegreerde en verweefde stories. As ons hierdie stories dan hoor, lees en vertel, word dit deel van wie ons is - ons verhaal. Ons lewensverhale is ‘n komplekse netwerk van baie verhale, waaruit ons ons eie lewensverhaal distilleer en wat uiteindelik ons identiteit vorm.
In ‘n TEDGlobal talk,Julie 2009, episode getiteld “The danger of a single story” verduidelik die Nigeriese outeur Chimamenda Ngozi Adichi dat ons lewens saamgestel word deur ‘baie oorvleulende stories en dat daar ‘n groot gevaar is om net een storie te vertel. Wanneer ons, onsself, ‘n ander persoon, ‘n land,of kultuur net vanuit een storie verstaan, lei dit tot ‘n kritiese misverstaan, verskraling en vervreemding. Wanneer ons ‘n enkel storie van ander, of van onsself vertel, oor en oor, dan word ons of die ander persoon net dit.
Deel van die hermeneutiese proses is die verstaan van ons eie stories, juis sodat ons dit in verband met die meesterverhaal, in ons geval die Jesus verhaal, kan bring.
Jordan Peterson verduidelik in een van sy potgooi produksies dat die Bybel een van die mees komplekse boeke is, vanweë die feit dat daar soveel kruisverwysings is. Jy kan nie die Bybel sonder die Bybel verstaan nie. Die een storie verwys, na ‘n ander, maar elke keer kom ‘n nuwe narratief na vore. Ons sien dit veral waar die Nuwe Testamentiese skrywers die Ou Testamentiese narratiewe en simboliek gebruik en dit nuut vertel. Hierdie werklikheid skep vir ons ‘n raamwerk van die manier hoe ons na ons eie narratief se interaksie (dialectic) met ander narratiewe kyk. Ons eie narratief het kruisverwysings na ander narratiewe, dit maak mense se lewensverhale kompleks. Dit wys ook juis hoe nuwe narratiewe ‘n positiewe of negatiewe rol speel om die storielyn van my lewe in ‘n nuwe koers te kan stuur.
Wanneer ons na ander se lewensverhale luister “sien” ons dit ook voor ons afspeel. Ons leer ken die karakters in hulle verhale soos hulle die karakters bekryf. Hoe beter ons na ander se verhale luister, hoe dieper groei ons empatie. In ons luister na mekaar word ons ook deel van mekaar se verhale.
2.2 Hoe werk die narratief?
Verhale het stuktuur, daar is ‘n storielyn ‘n spanningslyn, diskoers, karakters, insidente of gebeure, ‘n toneel waarin dit afspeel ens. (W Burger:2018)
Die verteller skep karakters, wat herkenbaar is vir die leser. Goeie karakterisering is wanneer ons iemand wat ons ken, of verkieslik onsself, in die karakters raaksien. Die verhaal laat die leser met die karakters identifiseer, veral die protagonis, deur die karrakter voor te stel of as ’n held wat ‘n morele standpunt inneem, en wie deur antagoniste in sy veldtog teengestaan word, of as ‘n slagoffer met die antagonis as agressor. Dikwels word albei voorstellings in ‘n verhaal gebruik. Die Jesus storie is ‘n voorbeeld hiervan. Jesus is die held wanneer Hy wonderwerke doen, en siekes genees en in sy veldtog om die koms van die koninkryk aan te kondig. Maar Jesus word ook as ‘n slagoffer geskets wanneer die konflik met antagoniste, die godsdienstige leiers, uitgebeeld word, en dan die sameswering om Hom dood te maak. Die leser word emosioneel aan die protagonis verbind deur hierdie voorstellings.
Elke storie het ‘n spanningslyn. Die spanningslyn is iets anders as die storielyn, dit dra die afwaging van die verloop van die plot in die storie in. Dit skep ‘n “anticipation” by die leser en trek die leser in die storie in.
2.3 Verhale waarvan ons eie stories deel word.
Die afwagting is dat God se koninkryk in sy of haar lewe sal ontplooi. Soos ons deur die lewe gaan bou ons, ons identiteit rondom ons waardes en oortuigings en die mate waarin ons daaraan vorm gee. Ons geloofsidentiteit rondom ons geloofswaardes en oortuigings resoneer met dié van die evangelie. Die storielyn van die koninkryk inkarneer uiteindelik deur die spanningslyn in die lewe van die gelowiges.
Die Abraham verhaal, is hier ‘n goeie voorbeeld.
Die dubbelloop plot van die Abraham verhaal is die beloftes van ‘n ontelbare nageslag en ‘n land, waarin hulle sal woon. Die spanningslyn word op ‘n hoë noot begin wanneer die verteller vir ons vertel dat Abraham getroud was met ‘n onvrugbare vrou. Die afwagting van die leser word verder verhoog deur die spanning wat geskep word deur Abraham se vertroue en sy ontrou wat deur ‘n aantal insidente beskryf word. Ons leer Abraham ken deur sy optredes tydens krisistye en sy gesprekke met God. Ons leer ook vir God ken, as ‘n God van verhouding, wat Hom bemoei met hierdie eiesinnige man met sy onvrugbare vrou. God se trou ten spyte van Abraham se ontrouheid. Hy bly verbind aan sy beloftes aan Abraham.
Abraham se kinderloosheid ten spyte van God se belofte, sy eie planne en die beloftes en verbond wat telkens vernuwe word, verhoog die spanning in die verhaal. Deur die spanning tussen Abraham se gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid word die leser deel van hierdie gebeure en die afwagting van die realisering van die belofte, betrek die leser by hierdie verhaal. Dit is die spanning wat die leser aangryp, die verbeelding aanwakker en betrokkenheid skep in die verhaal. Dit is die spanningslyn wat jou intrek en jou met die karakters laat identifiseer, wanneer jy jou vereenselwig met hul worsteling. Die karakter se drome, stryd, teleurtellings en oorwinnings word die leser s’n.
Die leser identifiseer met karakters wat eg is in hul menslikheid. Selfs wanneer stories van superhelde vertel word vind identifisering plaas wanneer eg menslike aspekte van die held geskets word. Die oomblik wanneer die leser met ‘n karakter identifiseer, vind ‘n soort inkarnasie moment plaas. Hier ontmoet die wêreld van leser en verteller waaruit nuwe identiteitsvorming kan ontstaan . Hierdie identifisering skep dan ‘n vertroue en laat die leser reisgenote van diekarakter word.
2.4 Die Jesus storie
In Mathew as Story, neem Jack Dean Kingsbury ons op ‘n narratiewe reis deur Matteus se evangelie en verduidelik aan die hand van die narratief hoe ons die evangelie van Matteus beter kan lees. Matteus vertel die Jesus storie, juis op so ‘n manier dat die leser Jesus ontmoet en die storielyn ontplooi word in Jesus se bekendstelling van die Koninkryk van God.
Die leser van Matteus is die na-Pase dissipel wat geleef het in die tyd tussen die opstanding en die wederkoms. Hierdie geimpliseerde leser, soos alle dissipels, het oproepinstruksies ontvang om soos hul Leermeester te wees. Vir hierdie doel word hy of sy opgeroep om na Jesus se hoof toesprake te luister en dit sy of haar eie te maak en in die proses te konformeer tot die lewensstyl van Jesus.
At 16:24, Jesus, the Son of God, declares in Matthew: "If any man would come after me, let him deny himself and take up his cross, and let him follow me." By internalizing the speeches of Jesus, the disciple, or the implied reader, who through Jesus has become a "son of God" (5:45), realizes this saying in his or her life: In single-hearted devotion to God the Father, he or she serves the neighbor and indeed all humankind.”(p111)
Matteus gebruik drie hoof karakters in sy storie, nl Jesus, die dissipels en en die godsdienstige leiers. In die Matteus narratief word die Jesus figuur, die protagonis geskets as die Seun van God , wat die koninkryk van God aankondig en laat deurbreek. In vyf toesprake verduidelik Jesus die koninkryksbeginsels, die sending van die dissipels na Israel. Die gelykenisse as lering in die geheimenis van die Koninkryk. Die geloofsgemeenskap diskoers, en laastens die eskatalogiese diskoers van die eindtye.
Die leser word dus ingetrek in die verhaal deur uitgedaag te word om deel te neem aan hierdie reis na die koms van die koninkryk.
Eerstens beskryf Matteus Jesus as die Christus, die Seun van God gekom het om mense se verhouding met God te herstel deur die Wil van God te doen wat beteken om God bo alles lief te hê, en ook jou naaste soos jouself.
Die diskoers van die dissipels help ons om krities na onsself te kyk midde van die konflik tussen Jesus en sy dissipels. Om te groei tot ware navolgers van Jesus langs die kruisweg. Daar is spanning tussen Jesus en die dissipels, wanneer hulle nog wêrelds dink oor mense, kinders, oor mag en hul verdeelde lojaliteit.
Die verhaal konfronteer die leser met die godsdienstige leiers van Israel, wat deur hul uiterlike godsdienstigheid nie net die koninkryk misloop nie, maar ook die grootste struikelblok in die pad vir ware dissipelskap word.
Om dissipelskap dus te kan verstaan, moet die verhaal van Jesus betrek word en elkeen moet dan krities na sy of haar eie navolgingsverhaal kyk. Deur weer en weer na die teks terug te gaan, word nuwe insigte van die teks en van die self, verkry. In hierdie proses moet ons eerlik wees ten opsigte van watter karakters ons mee identifiseer. Dit beteken om aspekte van onsself in beide die positiewe en negatiewe karakters raak te sien en daardeur dan nuut te belyn met die Hoofkarakter. So word antwoord gegee op die oproep: "bekeer jou want die koninkryk van God het naby gekom".
Die leser word opgeroep om in navolging van Jesus hierdie sentrale gebod na te leef. Dit gebeur wanneer gelowiges besef dat dit alleen kan geskied deur selfopofferende diens, soos Jesus dit uitleef op pad na die kruis. Die leser word eerstens opgeroep om met Jesus te identifiseer en dan op die pad van disspelskap op reis te gaan. Om weer en weer georiënteer te word na die kruisweg. Jesus herinner hulle gedurig daaraan dat die Christus moes ly en dat Hy hulle saamneem op die lydingsweg.
Hierdie oproep tot navolging skep konflik tussen Jesus en die dissipels. Alhoewel hulle alles gelos het om Jesus te volg, was hulle lojaliteit verdeel. Konflik onstaan wanneer hulle stry wie die belangrikste is, aanspraak maak op bevooregte posisies, Jesus wil verhinder om die lydingspad te loop en die kindertjies verjaag. Jesus daag hulle keer op keer opnuut uit om hom te volg. Die kritiese punt is waar almal uiteindelik, Jesus of verraai, of weghardloop, of verloën. Die verhaal eindig egter nie daar nie. Na Jesus se opstanding bemagtig Hy Sy dissipels om Sy boodskap, dié van geloof in die opgestane Here die ganse wêreld in te neem. Jesus betrek sy dissipels by sy weg na die kruis en gee hulle die opdrag om ook so te doen. Om ander in navolging te lei, om ook dienaars te wees, soos Jesus. Hierdie verhaal van dissipelskap kan egter ontspoor wanneer dissipels die suurdeeg van die Farrisëers kans gee in hul lewens. Die godsdienstige leiers is die antagoniste in die Jesus storie. Die konflik tussen Jesus en die leiers lei uiteindelik na Jesus se dood. Die konflik vind plaas wanneer Jesus hulle konfronteer met hulle verstaan van die wet en godsdienstige pligte. Vir Jesus is die uiterlike onderhouding van die wet futiel. Dit is ‘n maklike strik waarin mense val. Dit neem jou oor en wanneer jy eers daarin geval het is dit bykans onmoontlik om daar uit te kom.
Die teenvoeter van hierdie verleiding, is om die self prys te gee ten gunste van ‘n totale verbintenis aan Christus. Kingsbury lei ons deur die verhaal wanneer hy spesifiek na die karakters in die Jesus storie verwys en elkeen se rol, om nie net die boodskap van Jesus oor te dra nie, maar daardeur ook te help om die rol wat elke karakter speel in die spanningslyn van die verhaal, te verstaan (en te interpreteer).
2.5 Kiemverhaal. (Kernal narrative)
Die vraag is nou: “Waar begin ons, om ons eie verhale te verstaan wat ons lewens uitkyk en optredes vorm en om 'n alternatiewe narratief in ons lewe te skep wat met Jesus se verhaal resoneer. 'n Lewe deur uit die opstanding wat gerig is op die boodskap van die koninkryk. Ek stel die term kiemverhaal voor as ‘n metofoor: Hoe kort sinsnedes, in ons gedagtes nesskrop en waaruit ons, ons verhale vertel. Dit is soos ‘n noot waarop ‘n musiek instrument ingestel word wat die hele toon van ‘n uitvoering bepaal.
‘n Kiem is die deel van ‘n plantsaad wat die genetiese materiaal bevat waaruit nuwe groei uitspruit. Wysheidsverhale het so ‘n kern verhaal waaruit die mens sy lewenshouding, gesindhede en optredes ontkiem en uitspruit. Kiemverhale word die suurdeeg van ons lewensverhale. Hierdie kiemverhale word ‘n soort van ‘n lewensmantra. ‘n hartsgesindheid. Dit word die bril waarmee jy die werklikheid waarneem. Jy neem jou omgewing sensitief waar en resoneer met die gesprekke(media) en gebeure wat rondom jou plaasvind. Jou kiemverhaal word die hele tyd uitgedaag of bevestig, soos jy jou pad deur die lewe navigeer.
Alle ideologieë word rondom sekere kiemverhale gebou. Dit is verhale oor die werklikheid wat aan ons voorgehou word en oor en oor vertel word totdat ons alles rondom ons vanuit daardie perspektief waarneem en ons lewens daarvolgens oriënteer. Ricoeur lê klem daarop dat ons nie ‘n skoon bladsy is waarop daar geskryf word nie, maar dat ons, met ons eie verhale, (kiemverhale) na die teks toe kom. Onwillekeurig soek ons bevestiging van ons kiemverhaal aan die een kant en aan die anderkant is ons gereed om ons verhale te verdedig.
Daar is dus kiemverhale aktief in ons lewens. In die hermeneutiese proses moet ons hierdie verhale identifiseer en waar dit bots met die kiemverhaal van die Koninkryk, moet ons hierdie verhale smoor. Jesus doen dit meesterlik in sy bergrede wanneer hy sê; “Julle het gehoor dat daar in die ou tyd gesê is … maar ek sê vir julle.”
Wysheidsverhale word ook uit so ‘n kiemverhaal gebore. Jesus is die hele tyd besig om so ‘n kiemverhaal aan sy dissipels voor te hou wanneer hy oor die koninkryk van God praat. Bekering is daarom ‘n wegdraai van die ou, wêreldse verhale na die kiemverhaal van die Koninkryk.
In die Bergrede Matt 5 – 7 stel Jesus ons bekend aan hierdie kiemverhaal. Hy doen dit deur temas aan die orde te stel en dan in gesprek tree met die menslike, ou wêreldse, verstaan van hoe die lewe werk deu die kiemverhaal van die Koninkryk as ‘n teenstelling van die status quo gestel. Ons moet besef dat die Koninkryk se wysheid nie die “natuurlike” lewenshouding nie. Selfs godsdienstige, morele optredes hou verband met die makliker weg, of soos Jesus dit self stel: die breë weg.
Enkele kiemverhale uit die evangelies van Matteus.
Wie agter my wil aankom moet homself verloën en my volg.
Hy wat sy lewe wil behou sal dit verloor; en hy wat sy lewe terwille van my verloor sal dit vind.
Julle het gehoor dat daar gesê: “jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.” Maar ek sê vir julle julle moet julle vyande liefhê.
Beywer julle allereer vir die koninkryk van God en sy geregtigheid, dan sal hy julle ook al hierdie dinge gee.
Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle doen moet julee ook aan hulle doen.
3. Wysheid as navolgingsmodel in die Narratiewe hermeutiese proses.
Mark Reynolds skryf in ‘n kort artikel oor skrifinterpretasie dat waneer ons besig is met skrifinterpretasie ons inderwaarheid vra na wysheid van die Heilige Gees. Wysheid is anders as blote intelligensie, dit reflekteer verskeie, wyduiteenlopende ervarings. Hierdie insigte word dan geïntegreer met die manier hoe ons leef. Hoe ons die uitdagings van die lewe hanteer en ons sin vir betekenis verdiep. Ons leer om na ander wyse persone se verhale te luister en te put uit hul ervarings. Geloofsgemeenskappe is dus die ruimtes waar lewenservarings gedeel word, deur gesprekke tussen generasies en met die tradisie waaruit die gemeenskap ontstaan het. Ons bekom nie net wysheid deur ons interpretasie van die Bybel nie, maar ons interpretasie van die Bybel groei namate ons wyser word. (M Reynolds: 2023)
Die Kerk sukkel dikwels om te leef soos sy glo. Ons ken die boodskap van die Bybel, ons glo dit wat die Bybel oor God sê, maar dikwels weerspreek die lewens van christene hul geloof. Wysheid, bring die, wàt ons glo en die hoé ons leef met dit wat ons glo bymekaar en dit help ons dan om ons lewens te integreer.
Die wysheidstorie,wil dit verder neem deurdat ons nie net deel van die storie word nie, maar dat ons self die storie word. In Hermeneutics and phenomenology van Ricoeur : "The text exposes the reader not only to other possible worlds but to other possible ways of being, thus affording a perspective from which one can question current ways of being.”
Jesus het kom leef met die wysheid van die Koninkryk van God en het almal opgeroep om Hom daarin te volg.
In die die artikel ’ Stories of Wisdom to Live By:, verduidelik Ferrari ea, hoe die narratief ons help om wysheid te bekom en te beoefen. Hulle bespreek ‘n aantal roetes(pathways) waardeur ‘n persoon wysheid bekom. (Ferrari and M Weststrate ed:2013)
3.1 Die Outobiografiese roete
Met hierdie metode kyk die persoon op ‘n reflektiewe manier na sy of haar lewenstorie. Randen en Kenyon het reeds voorgestel dat wysheid binne ons lewensverhale opgesluit lê, en dat ons wysheid kan ontgin deur ons eie lewensverhale te vertel, dit wat intern binne onsself is en dit wat rondom ons gebeur. Wanneer ons, ons verhale vertel, skep dit afstand sodat ons hierdie verhale kan beskou en interpreteer.
“Reading our life story is a reflective process whereby we make connections between our experiences and our sense of self and learn lessons along the way. From this process we glean the wisdom of our lives.” . (Ferrari and M Weststrate ed: 2013)
Hierdie lewensverhale is soos McAdams uitwys, nie ‘n volle verteenwoordiging van ons lewens nie, maar ‘n samehangende verhaal wat ervarings aanmekaar weef wat ons help om te verduidelik wie ons op hierdie oomblik is. (McAdams:1993)
Identiteit is nie net geleë in, waar ons vandaan kom, ons taal en ons oortuigings of ons geloof nie, maar hoe al hierdie aspekte saamkom in ‘n lewensverhaal. My geloofsidentiteit is dus nie bloot: “ek is ‘n christen”; “ek is gereformeerd”, “ek is evangelies”; “ek glo in die opstanding”; “ek glo is die Godheid van Christus;” nie, maar hoe hierdie oortuigings in jou lewensverhaal ingeweef is. Identiteit is nooit iets staties of afgehandel nie. Ons strewe om geïntegreede, samehangende stories, lewenstories, te leef, te midde van die kompleksiteit van al ons verskillende ervarings. Die uitdaging is om jou lewensverhaal, al meer te sentreer na die Koninkryk van God, waar die navolging van die opgestane Jesus die Here die hoogste prioriteit is.
3.2 Simulasie
Simulasie is die tweede roete tot wysheid in die narratiewe konteks.
“Simulation in understanding a story, readers or listeners participate in a meaning-making process whereby they “read between the lines” of the story, interpreting and analyzing their lived experiences to achieve a deeper meaning in the text, and through this process, extract lessons to live by.”
Simulasies voorsien dus ‘n model, waarvolgens mense hul eie werklikhede skep, beide wat voor hul afspeel en wat in hul toekoms moontlik is. Hierdie benadering van Ferrari is insigewend vir ons omgaan met die meester narratief van veral die Jesus storie. Die verhaal van die wyse persoon (Jesus), sy optredes in spesifieke situasies en omstandighede simuleer dit iets van die werklikheid waaraan die leser blootgestel word. Dit gee dan perspektief van jou eie optredes en keuses, sodat jy deur dieselfde ervarings hoef te gaan nie.
“Because a story depicts real life, literary simulations allow us to understand and predict the behavior we encounter in the real world, with a high degree of verisimilitude.” (Ferrari And M Weststrate ed: 2013)
In Johanner 8 word die storie vertel van ‘n vrou wat in owerspel betrap is. Jesus word gevra of hy ‘n oordeel kan vel oor die vrou. Soortgelyke situasies kan in ons lewens afspeel, waar ons ook ‘n oordeel moet uitspreek. Ons simulasie dan ons optrede en benadering met Jesus se optrede kan daardeur wysheid bekom om ons eie optredes te rig. Hoe meer ons, onsself in die verhaal verdiep, hoe meer verstaan ons die kompleksiteit van die verhaal. Hoe meer ons reflekteer op ons eie verhaal, hoe beter verstaan ons ons eie kompleksiteit en kan ons met groter wysheid optree. Ons sien ons eie beeld reflekteer wanneer ons in ‘n spieël kyk. In die simulasie van ‘n wyse persoon sien ons onsself in die karakter se lewe, Aan die anderkant reflekteer die karakter dan in ons lewens.
“Simulation allows us to indirectly gain wisdom by reflecting on the experiences of those fictional and real persons who have come before us. The second purpose of simulation is to understand and predict behavior that is embedded in a dynamic system involving complex interactions.” (Ferrari And M Weststrate ed: 2013)
3.3 Resonansie
In die lees van die narratief en identifisering met die essensie van die wysheid van die wyse persoon of karakter, die diskoers van die storie,in simulasie, laat die leser toe dat hoofkarakter se wysheid ressoneer met sy eie. Resonansie is ‘n gedagte wat ek by Root en Bertrand gekry het. ( Root en Bertrand:2023)
In die Narratief hermeneutiese konteks gebeur resonansie wanneer die leser haar so vereenselwig met die karakter se denke, lewensfilosofie,en manier van optree, dat die leser ‘n behoefte het om haar lewe in ooreenstemming te bring. Resonasie verwys na die fisika van golwe wat dieselde frekwensie het en dan mekaar beïnvloed. bv wanneer twee snare wat op presies dieselfde noot ingestel is vibreer al word net die een gestrem. Wanneer ons die Jesus verhaal lees, vgl Matteus sien ons herhalende temas wat weer en weer in die evangelie na vore kom, die koninkryk van God, navolging van Jesus, self opoffering, diensbaarheid, ensovoorts. Ons leer ook die karakter van Jesus ken en veral in
Lukas leer ken ons Jesus met ‘n passie vir die randfigure, die sondaars, die tollenaars, kinders, melaatses, vroue. Wanneer ons die verhale oor en oor lees verander die “golflengte” en begin hierdie gesindhede en optredes vanuit die evangelie in ons lewens resoneer. Ons kom in voeling met die karakters en veral die hoofkarakter in die verhaal.
Slot/Gevolgtrekking
Die narratiewe benadering laat ons besef dat ons lewensweë nie in klip gekap is nie; ons lewens word gevorm en hervorm deur verhale. Daarom is dit belangrik om te let op die verhale wat ons vir onsself en ander en van onsself en ander vertel. Hierdie verhale gee vorm aan ons lewensverhaal. As ons net verhale van konflik vertel word ons swakker. Wanneer ons eerder verhale van genesing, vergifnis, empatie vertel, word ons en die mense rondom ons versterk en getroos. (David Denborough (2014) Retelling the Stories of Our Lives Everyday Narrative Therapy to Draw Inspiration and Transform Experience.)
Lukas 10:25-37.
Wat is die belangrikste gebod? Dit is die vraag wat gevra word en die antwoord is die kiemverhaal van die Skrif: "Jy moet die Here jou God liefhê met…… en jou naaste soos jouself". Die verteller trek die leser in die verhaal in met ‘n opvolg vraag. Wie is my naaste? Dan vertel Jesus ‘n storie. Die storie gee die idee lewe. Die protagonis, ‘n uitgeworpe randfiguur, die antagonis, is die godsdientistige figure. Wat beteken om ‘n naaste te wees? Om medelye te toon. Die uitdaging van resonansie in die afloop van die verhaal is: gaan en maak jy ook so.
Bibliografie:
Bana, Mark. 2023 Ten On Religion. Tenonreligion.com )
Burger Willie, 2018 Die Wêreld van die Storie. Van Scaik
Buzási, Áron, Paul Ricoeur and the Idea of Second Naivety
Die lewe in Jesus se storie 16
Ferrari, Michel, Nic M. Weststrate, and Anda Petro. 2013 Stories of Wisdom to Live By: Developing Wisdom in a Narrative Mode The Scientific Study of Personal Wisdom From Contemplative Traditions to Neuroscience,)
Denborough, David (2014) Retelling the Stories of Our Lives Everyday Narrative Therapy to Draw Inspiration and Transform Experience.)
Kingsbury, Jack Dean. Mathew as Story
McAdams, D. P. (1993). The stories we live by: Personal myths and the making of the self. New York, NY: Guilford Press.)
McLean Kate C. (2010)· Monisha Pasupathi Editors Narrative evelopment in Adolescence. Creating the Storied Self. © Springer Science+Business Media.)
Mudge L,S in Ricoeur P. 1982 Introduction on Essays on Biblical Interpretation
Peterson Eugene “The Jesus Way”
Ngozi Adichi. Julie 2009Chimamenda TEDGlobal talk, , episode getiteld “The danger of a single story” verduidelik die Nigeriese outeur
Reynolds. 2023https://revmark.com//09/21/an-introduction-to-the-interpretation-of-scripture
Ricoeur,Paul. 1967 The symbolism of Evil.
Ricoer, Paul. 1975 Hermeneutics & Phenomonology
Ricoeur,Paul. 1992 Oneself as Another.
Roberts, Jason P. 2018, Open Theology; 4: 29–45 Conceptual Blending, the Second Naïveté, and the Emergence of New Meanings:
Root en Bertrand. 2023); “When church stop working”
Comments