Ons Bestaan uit Myself as die Ander
- Andre Mouton
- Jan 18
- 2 min read
Updated: Mar 16
Paul Ricoeur se "Oneself as Another" stel 'n diepgaande filosofiese raamwerk voor oor selfheid, identiteit, en anderheid, wat sterk fokus op die rol van narratief en etiek in die konstruksie van menslike identiteit. Ek probeer die raamwerk te gebruik om die huidige diskoers in die NG Kerk te verstaan veral met betrekking tot diversiteit, verdraagsaamheid, en ons hantering van teologiese verskille.
Die huidige diskoers wat die NGKN voer met die NGK se Algemene Sinode, kan beskryf word as 'n spanning tussen die "ons" van die kerk, die "ander" binne die kerk en die uitdaging wat ons het om morele en teologiese eenheid te handhaaf. Hierdie spanning is voorop veral in debatte oor die kerk se posisie oor selfdegeslagverhoudings, die aanvaarding van diversiteit in aanbiddingstyle en teologiese interpretasie. Die spanning word op die voorgrond gedryf deur die vasgelooptheid tussen tradisionele en liberale teologiese standpunte.
Wat ek lees is dat ons identiteit nie staties is nie maar uit stories bestaan wat deur die verhale wat ons oor onsself en ander vertel, geskep word. Die NGK se identiteit word gevorm vanuit sy geskiedenis van Afrikanerskap, apartheid, en die voortdurende proses om onsself te herposisioneer binne ‘n meer inklusiewe samelewing, ook binne die kerk. Die uitdaging lê in hoe hierdie narratief kan verander om diversiteit te akkommodeer sonder om ons gemeenskaplike waardes prys te gee.
In ons verstaan van “self” as die “ander” moet ons die "ander" erken as 'n fundamentele deel van ons eie selfverstaan. Ons in die NGK kan hierdie beginsel gebruik om meer verdraagsaamheid te bevorder deur nie net ander te aanvaar nie, maar te erken dat die ander ons help om ons eie geloof te definieer wat nodig is as ons dit wil herdefinieer.
Die idee is dat die "etiese self" impliseer dat selfheid altyd in verhouding tot ander staan en dat hierdie verhouding deur verantwoordelikheid gekenmerk word. Vir ons binne die NGK beteken dit om sensitief en verantwoordelik om te gaan met ander lidmate wat van ons verskil terwyl ons onthou dat ons binne ‘n breër gemeenskap staan wie se behoeftes en vrese in ag geneem moet word. Ons as die NGK moet dus bewus wees van die verskillende stories wat binne ons geledere bestaan en 'n ruimte skep waar hierdie stories met mekaar in gesprek kan tree.
As ons fokus op respek vir mekaar en dialoog kan dit help om polariteit te oorkom en brugbou te bevorder. Op hierdie manier kan ons Bybelse tekste op nuwe maniere begin lees wat meer ruimte skep vir inklusiwiteit en konteks-sensitiewe interpretasies. Ons kan dan 'n dieper selfrefleksie beoefen oor wie ons is, wie ons wil wees en hoe ons die ander binne én buite die kerk wil akkommodeer.
Comments