’n Boodskap van Hoop vir 2026
- Andre Mouton

- Jan 2
- 2 min read

Aan die begin van ’n nuwe jaar staan ons weer voor God met ’n diepe verlange na Sy teenwoordigheid en leiding. Ons leef in ’n tyd waarin die kerk wêreldwyd onder spanning staan. Menings verskil, oortuigings bots, en daar is ’n groot drang by ons om seker te wees: seker oor wat reg is, seker oor wat verkeerd is, seker oor die pad vorentoe.
Maar dalk is dit juis hier waar God ons uitnooi om te besin oor hoe ons kyk.
Die Bybel leer ons nie dat geloof beteken om alles vooruit te weet nie. Geloof is om te vertrou, selfs wanneer ons nie die volle prentjie kan sien nie. Abraham moes trek sonder om die land te besit. Die Israeliete het uit Egipte getrek met ‘n belofte. En die eerste kerk moes leer sê: “Dit het die Heilige Gees en ons goedgedink …”, nie omdat alles duidelik was nie, maar omdat God teenwoordig was.
In ons tyd is daar ’n versoeking om sekerheid te verwar met getrouheid. Soms raak ons so vas aan ons oortuigings dat ons bereid is om mekaar prys te gee om dit te beskerm. Tog herinner die evangelie ons daaraan dat eenheid nie die beloning vir perfekte insig is nie, maar die ruimte waarin God ons vorm terwyl ons saam onderweg is.
Hierdie nuwe jaar nooi God ons om ’n ander pad te loop. Nie ’n pad van vrees nie maar ook nie ’n pad van beheer nie. Hy nooi ons uit om op Hom te vertrou.
Vertroue dat God getrou is, selfs wanneer ons nie alles verstaan nie. Vertroue dat die Heilige Gees ons lei, ook deur onsekerheid. Vertroue dat God se toekoms nie in ons hande rus nie, maar in Syne.
Dit beteken nie dat waarheid onbelangrik is nie maar dat waarheid ons nie van liefde mag losmaak nie. Dit beteken dat ons mekaar bly raaksien as broers en susters, selfs wanneer ons worstel. Dit beteken dat ons glo God is nog besig met ons, met Sy kerk, en met Sy wêreld.
Mag hierdie jaar vir ons ’n jaar wees waarin ons leer om stadiger te luister, dieper te onderskei, om nader aan mekaar te bly en om ons hoop nie in sekerheid te plaas nie, maar in God se getrouheid. Ons stap hierdie nuwe jaar binne met oop hande en oop harte, belydend dat ons nie God se toekoms besit nie maar ons Hom vertrou daarmee.
Mag die vrede van Christus, die wysheid van die Gees en die liefde van die Vader ons lei in alles wat voorlê.
’n Geseënde nuwe
jaar vir julle almal.




Comments