Geloof is 'n Verhouding, nie 'n Ideologie nie
- Andre Mouton
- Jan 18
- 5 min read
Updated: Apr 6

Dit is nie vreemd dat die AKLAS 2002 se dokument oor skrifgesag as liberalisties beskou word nie, aangesien die dokument se hantering van Skrifgesag afwyk van die streng letterlike benadering wat dikwels met fundamentalisme geassosieer word.
Die dokument stel Christus as die kern van die Bybel en laat ruimte vir simboliese interpretasie. Fundamentaliste sien hierdie benadering dikwels as subjektief en as 'n verslapping van absolute waarhede. Hoewel die dokument fundamentaliste ontstel, is dit nie suiwer liberalisties nie maar is anders as ‘n fundamentalistiese siening oor skrifgesag. Dit behou steeds 'n hoë siening van inspirasie en bevestig die Bybel se gesag as normatief vir geloof. Wat egter ontbreek, is 'n duidelike balans tussen vryheid van interpretasie en dogmatiese sekerheid, wat dit vir fundamentaliste ongemaklik maak. Die werklike spanning is dus nie net tussen fundamentalisme en liberalisme nie, maar tussen gesag en vryheid, vernuwing en behoud, en letterlike en simboliese interpretasie - 'n spanning wat die dokument probeer balanseer, maar nooit volkome oplos nie.
Binne die huidige verstaan van die struktuur van die NG Kerk bestaan die risiko dat ons die Algemene Sinode kan posisioneer as die finale gesagsdraer van interpretasie wat mag tot interpretasie sentraliseer eerder as om dit te deel. Dekonstruksie van hierdie Institusionele Mag moet gedoen word om ruimte te skep vir verskillende interpretasies wat op Christus gefokus is, eerder as om gesag by teoloë of kerklike strukture te sentraliseer. Die kerk moet beklemtoon dat Christus self die Hoof van die kerk is (Ef. 1:22) en dat gesag nie by mense rus nie, maar by Hom. 'n Christosentriese leefwyse moedig 'n nederige, diensgerigte benadering aan wat Christus se voorbeeld van nederigheid navolg (Matt. 20:25-28). Leierskap se doel moet wees om hierdie proses te begelei.Om 'n werklike christosentriese boodskap uit te dra, moet die fokus voortdurend terugkeer na Christus as die middelpunt van openbaring, geloof en transformasie. Die kerk moet:
• Christus bo die teks en institusie plaas,• Sy leerstellings konkreet toepas binne kontemporêre etiese vraagstukke,• die Heilige Gees se dinamiese werking erken.• sy gemeenskap bou rondom Christus se lyding, opstanding en versoening.• sy mag desentraliseer en die Gees moet toegelaat word om deur verskeie stemme te spreek.
‘n Boodskap wat hierdie fokus dra sal die evangelie as bevrydend, transformerend en hoopvol bevestig, eerder as om beperk te bly tot ‘n dogmatiese of institusioneel gekontroleerde boodskap. Om ideologiese posisies te versoen met ’n christosentriese siening wat nie self ’n ideologiese posisie is nie, verg ’n terugkeer na die kern van die evangelie met Jesus Christus as die lewende Woord van God (Joh. 1:14) . Dit vereis ’n benadering wat nie vasgevang is in menslike kategorieë van rigiditeit of relativisme nie, maar eerder Christus as die middelpunt en maatstaf vir geloof, leer en lewe erken. Ons Ideologiese posisies maak dikwels dat ons menslike insigte en sisteme die vertrekpunt vir geloof en interpretasie maak. ’n Christosentriese benadering stel Jesus Christus as:
Primêre openbaring van God (Heb. 1:1-3),
die lens waardeur die Skrif geïnterpreteer word (Luk. 24:27) en
die voltooiing en vervulling van die wet en profete (Matt. 5:17).
Hierdie benadering plaas die fokus op wie Christus is en wat Hy gedoen het eerder as op hoe ons teks interpreteer. Geloof is nie ’n ideologie nie, maar ’n lewenswyse van navolging wat liefde, genade en waarheid balanseer (Joh. 14:6). Ons moet die Bybel aanvaar as ’n Getuienis tot Christus. Die Uitdaging van Ideologieë is dat dit die risiko loop om die Bybel self ’n afgod maak teenoor om die Bybel te minimaliseer tot bloot ’n menslike boek sonder goddelike gesag. Die Bybel moet as ’n getuie tot Christus wees (Joh. 5:39) en nie as die finale openbaring nie. Ons moet die Bybel erken as die inspirasie van God deur mense, ondergeskik aan die Lewende Woord wat deur die Gees werk. Die doel van die Skrif is om mense na Christus te lei, eerder as om Skrifgesag self as einddoel te hê. Ideologieë met vasgestelde dogmas of die wat die bo-natuurlike werking van die Gees ontken, maak interpretasie afhanklik van die menslike verstand en ignoreer die voortdurende werk van die Heilige Gees. 'n Christosentriese houding erken dat die Gees van Christus steeds vandag werk om die Skrif lewend en relevant te maak (Joh. 16:13); dit laat ruimte vir persoonlike en gemeenskaplike insigte wat getoets word aan die karakter van Christus en vertrou dat die Gees die gelowiges lei na die volledige waarheid, sonder om die Skrif se gesag te kompromitteer of te verstar. Dit is baie belangrik vir ons om te besef dat geloof 'n verhouding is en nie 'n ideologie nie. Wanneer ons geloof in ’n stel vaste leerstellings wat gehoorsaam moet word wil verander of geloof afhanklik van persoonlike opinies en kulturele houdings maak, raak ons geloof 'n ideologie. 'n Christosentriese Oplossing definieer geloof as ’n lewende verhouding met Christus eerder as ’n sistematiese geloofstelsel en beklemtoon dat geloof deur liefde werk (Gal. 5:6) en dat die navolging van Christus die maatstaf van gesag is (Joh. 13:34-35). Dit bou ’n gemeenskap wat eerlik stry met vrae en vra die Gees om insig en eenheid (Ef. 4:3).Ons moet begryp dat ons ideologieë moralisties en selfs veroordelend kan wees, met 'n klem op die wet bo genade of kan morele grense verslap en die fokus op geregtigheid verloor. 'n Fokus op liefde en geregtigheid volg Jesus se voorbeeld van genade en waarheid (Joh. 1:14) en verkondig die liefde van God as die kern van die evangelie (Joh. 3:16) en gebruik dit as ’n riglyn vir etiese besluite. Dan beklemtoon ons Christus se oproep tot geregtigheid vir die onderdruktes (Luk. 4:18-19) en sy oproep tot bekering en heiligheid (Mark. 1:15). Ons ideologieë poog om definitiewe sekerheid te bied, of deur dogma of deur relativering maar met Christus as die middel erken ons dat kennis gedeeltelik is (1 Kor. 13:12) en dat geloof ’n reis is van groei en ontdekking. Ons vertrou daarop dat Christus genoegsaam is vir redding en dat Hy die middelpunt van alle waarheid is (Kol. 1:17). Ons omarm ’n nederige afhanklikheid van God se leiding deur die Gees, eerder as menslike sekerheid. Christus is bo Ideologieë en ’n Christosentriese leefwyse wat nie self ’n ideologiese posisie is nie, is het die volgende beginsels:
• Jesus Christus is die middelpunt van openbaring, nie 'n interpretasieraamwerk nie.
• Die Bybel is ’n getuienis tot Christus, nie ’n afgod of bloot ’n menslike boek nie.
• Die Heilige Gees lei interpretasie, nie menslike dogma of kulturele relativisme nie.
• Geloof is ’n verhouding, nie ’n stel reëls of idees nie.
• Liefde en geregtigheid is die vrugte van geloof, nie net abstrakte waarhede nie.
• Daar is ruimte vir geloofsgroei en vrae sonder vrees vir dogmatiese of kulturele beheer.
’n Christosentriese siening laat toe dat gelowiges saam met Christus wandel in 'n dinamiese verhouding eerder as om vasgevang te wees in mensgemaakte ideologiese strukture. Dit stel Christus as die ware gesagsbron wat waarheid, liefde en geregtigheid in 'n gebroke wêreld beliggaam.
Comentarios