top of page

Geestelike Integriteit en Institusionele geloofwaardigheid

Die afgelope week het die Christian Revival Church (CRC) van pastoor At Boshoff ’n groot byeenkoms in Windhoek aangebied.  Skares het ingestroom. Die aanbieding was professioneel, die musiek luid, die atmosfeer elektries.  Toe kom die detail wat my laat regop sit: die moderator van die NG Kerk in Namibië (NGKN) sit daar as ‘n VIP.

Op die oppervlak klink dit onskuldig. ’n Kerkleier wat hoflikheid betoon aan ’n ander tradisie, wat homself wys by ’n groot geloofsbyeenkoms.  Maar juis die simboliek is opvallend, vir my, problematies.

Die NGKN het die afgelope jare ’n duidelike rigting ingeslaan: hulle posisioneer hulself teenoor die NGK in Suid-Afrika deur weg te breek van die Algemene Sinode met die argument dat die Suid-Afrikaanse kerk te “liberaal” beweeg.  Lidmate in Namibië wat steeds deel van die breër NGK-familie wil bly wees, ervaar hierdie rigting as ’n afstand, selfs as ’n skeiding.

Teen hierdie agtergrond voel die VIP-verskyning by ’n CRC-byeenkoms soos ’n ironie. Want hier het ons ’n megakerk met ’n senior pastoor wie se persoonlike netto waarde glo $28 miljoen beloop, opgebou deur eiendomsbeleggings, ’n sterk handelsmerk en ’n welvaartsgeloof-boodskap waarin seën en finansiële voorspoed dikwels hand aan hand loop.

Hoe is dit dat ons koud staan teenoor ons mede-reformatoriese familie, maar warm stoele aanvaar by ’n beweging wat in sy wese so ver van die eenvoud van Christus leef?

Ek vra nie die vraag uit bitterheid nie, maar uit erns. Vir gewone lidmate lyk dit asof ons leierskap harder optree teenoor sogenaamde liberales binne die NGK-familie as teenoor megakerk-pastore met groot fortuine.  Dit skep die indruk van ’n dubbele standaard: Binne ons eie kerk word teologiese integriteit die maatstaf maar teenoor ander werlvaartsteologie is pragmatisme die maatstaf. 

Die vraag wat egter bly staan, is: hoe getuig dit van die Christus wat self geen plek gehad het om sy hoof neer te lê nie?

Hierdie ironie is nie net per ongeluk ‘n fout van hoflike diplomasie nie. Dit het dieper gevolge: As die moderator so maklik kan assosieer met die pragmatiek van voorspoedsprediking maar ‘n sinode verteenwoordig wat broers en susters binne die NGKerk vanuit Suid Afrika as persona non grata verklaar, verloor ons ’n stuk integriteit.  Dit stuur die boodskap dat die werklike skeidslyn nie gaan oor Bybelse waarheid nie, maar oor mag vir ‘n spesifieke naratief.  Dit bring ons terug by die kernvraag: Hoe lyk dit om Christus sentraal te plaas en Hom na te volg in so ’n konteks.

Ek glo nie hierdie situasie hoef net ’n klip des aanstoots te wees nie. Dit kan ook ’n geleentheid wees. ’n Spieël waarin ons as kerk onsself moet bekyk. Is ons bereid om konsekwent te wees in ons kriteria?  Kan ons eerlik vra of ons keuses en teenwoordighede regtig wys na Christus of is dit eerder net onsself wat uit ‘n posisie van eie pogings die naratief wil beheer?

Die teenwoordigheid van die NGKN-moderator by CRC hoef nie as ’n finale oordeel gesien te word nie. Maar dit behoort ons almal, leiers en lidmate, te laat besef watter boodskap ons aksies stuur, bewustelik of onbewustelik.  Wanneer ons gemakliker is om naby magsvertoon te wees as om die moeiliker pad van gesprek en verbondenheid met ons eie familie te stap?

Die Evangelie roep ons tot eenvoud, waarheid en integriteit wat Christus sentraal in ons doen en late plaas. Dit vra van ons om nie net gemaklike verhoudinge na te jaag nie, maar die moeiliker gesprekke te voer, selfs al is dit ongemaklik.  My hoop is dat die beeld van ’n volgepakte CRC-vertoning in Windhoek, met ’n NGKN-leier as eregas, ons nie net laat wonder nie maar laat nadink oor watter soort getuienis ons as kerk in Namibië wil wees.

 
 
 

1 Comment

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
Guest
Aug 23, 2025
Rated 5 out of 5 stars.

So 'n mond moet jam kry!

Like
Comments

Share Your ThoughtsBe the first to write a comment.
bottom of page