top of page

Fokus op Christus as Middelpunt

ree

Ons as NG Kerk in Namibië bevind ons tans in ’n tyd van spanning en onsekerheid. Die verskille oor hermeneutiek, kerkorde en die verhouding met die NGKSA het in baie opsigte ons gemeenskap verdeel en die fokus van ons geloofslewe verskuif. Met hierdie skrywe probeer ek ’n rigtinggewende narratief aanbied om

van ons roeping te plaas.


Elke mens en elke gemeenskap dra ’n donker kant, wat Jung die skadu noem. In konfliktye is die versoeking groot om hierdie donker kant te projekteer op ander, om ander as vals of verkeerd uit te wys en onsself as suiwer. Die Evangelie roep ons egter op tot selfondersoek (Matt. 7:3) en nederige erkenning dat ons ook ons eie motiewe, vrese en magsbehoeftes moet erken of raaksien.

Richard Rohr herinner ons weer daaraan dat Christus altyd groter is as ons ideologieë of interpretasies. Wanneer Christus die middelpunt is, staan ons nie teenoor mekaar nie, maar sáám onder sy lig. Hy is nie ’n wapen waarmee ons ons gevegte wen nie, maar ’n Persoon om te volg. Hierdie krisis kan ons terugbring na die kern: Christus self as die bron van eenheid, liefde en roeping.


Scott McKnight wys ons op die verskil tussen ’n “bounded set” geloof (wat bepaal wie binne en buite is) en ’n “centered set” geloof (waar almal uitgenooi word om nader aan Christus te beweeg). Ons kerk word geroep om ’n centered set gemeenskap te wees: nie om grense van uitsluiting te trek nie, maar om mense voortdurend uit te nooi tot ’n pad van groei in Christus.


In Genesis 15 bevestig God sy verbond deur alleen tussen die stukke diere te gaan. Abram loop nie saam nie. Hiermee sê God in effek: “Ek neem volle verantwoordelikheid. Ek dra die gevolge selfs wanneer julle faal.” Dit wys dat God se verbond nie op menslike getrouheid wil berus nie, maar op sy eie almag en genade.

Aan die kruis vervul Christus die verbond volkome. Hy dra die vloek van ons ontrouheid en staan in vir almal – Jood en nie-Jood, binne en buite, reg of verkeerd. Sy self-offer breek die muur van vyandskap af (Ef. 2:14) en maak die seën van Abram beskikbaar vir alle volke.

In ons huidige konteks hier gaan dit oor wie “reg” is of wie die “ware” kerk verteenwoordig. Maar die verbond en kruis herinner ons: God se trou is nie afhanklik van ons reg wees nie. Hy het alleen deur die vleis beweeg en alleen aan die kruis gehang. Ons roeping is om hierdie eensydige genade te leef en só ’n seën te wees vir mekaar en vir Namibië.


Met hierdie stukkie probeer ek ’n helende narratief daarstel wat ons konflik kan omskep in ’n geleentheid:


• Erkenning: Ons krisis wys vir ons ons eie skadu. Dit vra dat ons in ootmoed ons eie blindekolle bely.


• Heroriëntasie: Ons lê ons ideologieë en magsposisies neer en plaas Christus weer in ons fokus.


• Beweging: Ons nooi almal uit tot ’n pad van nader-beweeg-na-Christus, eerder as binne/buite-denke.


• Verbondstrou: Ons leef nie uit ons eie getrouheid nie, maar uit God se eenkantige trou wat in Christus se kruis bevestig is.


Prakties gesproke bied dit riglyne vir die pad vorentoe. Elke gemeente en leier word genooi om tye van refleksie en selfondersoek te hou oor ons eie skadukant (bv. deur stille retraites, belydenisdienste of kringgesprekke).

Ons liturgie en prediking moet doelbewus Christus sentraal stel, minder oor argumente, meer oor ontmoeting. Verskillende interpretasies en aksente word gedra as gawes van die Gees, nie as bedreigings nie.

Ons sinodale ruimtes moet hervorm word van besluitnemings-“slagvelde” na gespreksforums waar ons gesamentlik na die Gees se leiding soek.

In plaas daarvan om ’n identiteit te bou teenoor die NGKSA of ander, moet ons ons identiteit bou in Christus, en só ’n getuienis van eenheid wees vir die wêreld.


Ten slotte net dit. Ons staan tans op ’n kruispad. Ons kan kies vir die pad van verdere fragmentasie en ideologiese oorheersing, of ons kan die moeiliker maar ryker pad loop van selfondersoek, Christus-sentrering en beweging na eenheid. Hierdie pad vra moed, nederigheid en ’n nuwe verbeelding. Maar dit is ook die pad van ware hervorming en getrouheid aan ons Here.


“Christus in ons, die hoop van heerlikheid” (Kol. 1:27).

 
 
 

Recent Posts

See All

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
Comments

Share Your ThoughtsBe the first to write a comment.
bottom of page