top of page

Dit is Tyd om Ons Ideologiese Vertrekpunte te erken!

Is dit nie nou tyd vir ons almal om ons ideologiese vertrekpunte eerlik te erken en te herbedink nie?  So ‘n selfondersoek kan 'n deurslaggewende rol speel om meer Christosentries te funksioneer met ‘n oortuigende fokus op Christus as die middelpunt van geloof eerder as op ons ideologiese pole.   Ons moet vir eens besef dat die Kerk nie eenkant staan nie maar die versameling van ons almal is. 

 

Ons bevind ons tans in 'n teologiese spanningsveld tussen fundamentalisme en liberalisme.  Ja, ons moet dit op die naam noem voor ons enige vordering gaan maak!  Hierdie posisies funksioneer dikwels as meta-narratiewe, wat die manier waarop Skrif en tradisie geïnterpreteer word, beïnvloed.  Terwyl Fundamentalistiese vertrekpunte fokus op dogmatiese sekerheid en die letterlike interpretasie van die Skrif, beklemtoon die liberale uitgangspunt kulturele aanpassing, pluralisme en ‘n meer simboliese lees van die Skrif.  Hierdie verteenwoordig ‘n spektrum van sienings en dit is tyd om te erken dat die oomblik as ek meer oop is vir enige standpunt as iemand anders, is ek meer liberaal as daai persoon.  Hoe verder ons op hierdie spektrum beweeg, hoe meer liberaal of fundamentalisties raak ek – afhangende van die rigting van verskil van die argument.  Ons moet hierdie polarisasie openlik erken voordat ons sal begin vorder na ‘n meer christosentriese kerk en weg beweeg van etikette wat verdeling aanwakker. Erkenning van ons eie feilbare vertrekpunte skep 'n platform vir eerlike gesprek oor hoe geloof in die hedendaagse konteks uitgeleef kan word.  Dit help om die kernmissie van ons as kerk te herbevestig as 'n liggaam wat gefokus is op Christus.

 

'n Christosentriese benadering plaas Jesus Christus in die middelpunt van geloof, interpretasie en praktyk met Jesus as fokus van ons teologie wat die Skrif en tradisie interpreteer deur die lens van Jesus se lewe, dood en opstanding.  Ons fokus op die praktiese uitlewing van Christus se liefde en geregtigheid en volg Jesus se model van versoening deur brûe te bou tussen ons verskillende sienings.

 

Ek is van die oortuiging dat as ons as lidmate nie hierdie selfondersoek aanpak nie, die risiko van verdere verdeling hoog sal bly en daartoe bydra dat die kerk 'n slagoffer van interne konflik en eksterne irrelevansie bly.  Daarenteen, as ons onsself toespits op 'n Christosentriese visie, kan ons as Kerk 'n getuienis van eenheid bied in 'n verdeelde wêreld maar bo dit alles kan dit genesing bring binne gemeenskappe wat verskeur is deur ideologieë en kulturele polemiek.

Nou is die tyd vir ons almal wat onsself as lidmate van die NG Kerk ag om sy ideologiese vertrekpunte eerlik te beskou en te hervorm in die lig van 'n Christosentriese visie en kan ons ons missie herontdek en ons kerk help om 'n ware agent van versoening, liefde en waarheid te word deur te fokus op wat werklik saak maak—die persoon en boodskap van Jesus Christus. 

Net ‘n laaste versoek: “Hou asseblief op om van hulle te praat – die kerk is net ons!”

 
 
 

Recent Posts

See All

Comentários

Avaliado com 0 de 5 estrelas.
Ainda sem avaliações

Adicione uma avaliação
Comments

Partagez vos idéesSoyez le premier à rédiger un commentaire.
bottom of page