Die Ideologiese Olifant in die Kamer: 'n Oproep tot Eerlike Selfondersoek in die NG Kerk
- Andre Mouton
- Mar 13
- 2 min read
Updated: Apr 6

Die NG Kerk staan tans op ‘n belangrike kruispad waar verskillende teologiese en ideologiese invloede mekaar ontmoet. Hoewel daar gereeld gesprekke oor ‘n verskeidenheid sake gevoer word, bly een van die mees kritieke onderliggende kwessies onuitgesproke: die rol van ideologie in ons teologiese opleiding, prediking en kerkbesluite. Hierdie artikel is ‘n oproep tot ‘n eerlike selfondersoek oor hoe ons ideologiese raamwerke die manier waarop ons Skrif interpreteer en kerk-wees benader, beïnvloed.
Hoewel die NG Kerk homself sien as ‘n kerk met ‘n akademiese en teologies verantwoordbare tradisie, is dit duidelik dat verskillende ideologiese invloede ‘n rol speel in hoe besluite geneem word en hoe prediking en lering gevorm word. Organisasies soos Kairos Netwerk en platforms soos Glo die Bybel het ontstaan juis omdat hulle voel dat ‘n sekere ideologiese rigting stilweg as norm aanvaar word, terwyl alternatiewe beskouings gemarginaliseer word.
Die wegbreek-besluit van die NG Kerk Namibië (NGKN) is ‘n verdere bewys van ‘n dieperliggende ideologiese spanning. Hierdie gebeure dui daarop dat daar ‘n reële verdeeldheid is oor hoe die Bybel verstaan en toegepas behoort te word, maar eerder as om hierdie kwessie openlik aan te spreek, word dit dikwels gesystap of afgemaak as bloot ‘n botsing tussen “liberalisme” en “fundamentalisme.” Hierdie etikettering is egter problematies en verhinder ‘n eerlike teologiese gesprek.
Wanneer ‘n bepaalde teologiese raamwerk (hetsy konserwatief of progressief) onbewustelik of stilweg as “neutraal” aanvaar word, veroorsaak dit dat standpunte wat nie met die dominante narratief ooreenstem nie, dikwels as “onbybels” of “verouderd” afgemaak word. Gemeentes ervaar dikwels dat die teologie wat van universiteite af kom, ver verwyderd is van hulle geloofspraktyk of verstaan. Wanneer ideologiese verskille nie erken en hanteer word nie, ontaard dit dikwels in polarisasie en uiteindelik skeuring.
Die NG Kerk Namibië het ‘n unieke geleentheid om ‘n voorbeeld te stel van hoe ‘n kerk eerlik en verantwoordbaar met sy eie ideologiese verskille kan omgaan. Dit begin deur die werklikheid van Ideologiese Invloede te erken. Ons moet eerlik wees dat daar verskillende maniere is om Skrif te lees en toe te pas, en dat dit nie bloot ‘n kwessie is van reg teenoor verkeerd nie. Lidmate, predikante en akademici moet aangemoedig word om selfondersoek in te stel oor hulle eie voorveronderstellings en hoe dit hulle teologiese raamwerke beïnvloed.
Die NG Kerk Namibië kan nie bekostig om die ideologiese spanning wat nou bestaan te ignoreer of weg te wens nie. Deur eerlik te wees oor hierdie realiteit en ‘n oop en eerlike gesprek daaroor te voer, het Namibië nou die geleentheid om die kerk as 'n meer gesonder en geloofwaardige geloofsgemeenskap vestig. Die ware toets vir ‘n Christelike gemeenskap lê nie in uniformiteit nie, maar in die vermoë om met integriteit en respek verskille te hanteer terwyl Christus steeds die middelpunt bly.
Die vraag is dus nie of ideologie ‘n rol speel in ons kerk nie – dit is ongetwyfeld so. Die vraag is of ons die moed het om dit te erken en sinvol aan te spreek. Die tyd vir ‘n eerlike gesprek is nou. Nou praat ons nie meer met mense buite die NGKN nie maar met ons eie geloofsgemeenskap.
Comments