Die “Algemeenheid” van die Kerk en die Toekoms van die NGKN
- Andre Mouton

- Aug 25
- 3 min read

Die woord “algemeen” (of in die oorspronklike Grieks katholikē, later Latyn catholica) in die aanhef van die Geloofsbelydenis het deur die eeue ’n besondere betekenis gekry. Die Griekse woord katholikē beteken “volgens die geheel”, “omvattend”, “universeel”. Dit beklemtoon dat die kerk nie beperk is tot ’n volk, taal, plek of kultuur nie, maar die hele wêreld en alle mense insluit wat in Christus glo. Die term katoliek is baie ouer as die Rooms-Katolieke Kerk. Dit dui nie aanvanklik op ’n denominasie nie, maar op die universele en omvattende karakter van die kerk van Christus.
As gelowige bely ons saam met miljoene ander – deur tyd en ruimte heen – dat ons deel is van die liggaam van Christus. Ek behoort nie net aan my plaaslike gemeente of denominasie nie, maar aan die hele liggaam. Dit roep my tot ’n ruim geloofsverstaan – Christus se kerk is groter as my eie tradisie of belewenis. “Algemeen” roep ons om te soek na dit wat ons in Christus saambind eerder as dit wat ons skei.
Die kerk is nie ’n volkskerk of ’n kultuurkerk nie, maar ’n wêreldkerk. “Algemeen” herinner die kerk dat sy roeping is om uit te reik na alle mense, tale en nasies – niemand is uitgesluit nie. Dit bring ons ook in verbinding met die “gemeenskap van die heiliges” – dié wat voor ons was en dié wat ná ons sal wees. Die algemeenheid van die kerk is dus ook ’n historiese en eskatologiese algemeenheid. Dit help die kerk om te onderskei tussen ideologie (wat dikwels eng en groepgebonde is) en evangelie (wat universeel en Christus-gefokus is).
Wanneer ons die woord “Algemeen/Katoliek” gebruik in die belydenis, doen ons dit ongelukkig binne ’n geskiedenis waar die kerk oor en oor verdeel het.
Historiese breuke
1054 – Groot Skeuring: Die oos (Grieks-ortodoks) en wes (Latyns, later Rooms) het verskillende weë gegaan. Albei het egter steeds daarop aanspraak gemaak dat húlle die “katolieke” kerk verteenwoordig.
1500’s – Reformasie: Die Westerse kerk is verder in verskillende strominge verdeel. Protestante het die begrip “algemeen” behou, maar dit herinterpreteer om aan te dui dat die ware kerk nie gelyk is aan ’n bepaalde instituut nie, maar aan die liggaam van Christus self.
Na die Reformasie: Elke tradisie het sy eie “geskiedenis van isolasie” ontwikkel en dikwels afgesny gewees van die ontwikkelings in ander tradisies.
Richard Rohr wys daarop dat Christelike tradisies dikwels “deelwaarhede” vasgehou het en dit as die geheel verabsoluteer. Hy bepleit’n meer omvattende geloofsblik – een wat ruimte maak vir die verskillende insigte en ervarings van die kerk deur die eeue en oor kulture heen. Met ander woorde: katoliek moet verstaan word as die groter kring waarin al hierdie fragmente tog verbind is aan die Christus-geheel.
Die algemeenheid van die kerk lê nie in ’n enkele organisasie of denominasie nie, maar in die eenheid van almal wat hulle aan Christus verbind. “Algemeen” vra dat ons leer by mekaar se tradisies – oos, wes, protestants, charismaties, ens. – en dit nie as bedreiging sien nie maar as deel van die volle raad van God. Die volle “algemeenheid” van die kerk lê eintlik nog in die toekoms: wanneer Christus self sy liggaam voltooi en alle verdeeldheid oorkom. Elke geslag leef in ’n voorlopige, gebroke gestalte daarvan.
Kritiese beskou herhinder “Algemeen” ons dat géén groep die waarheid ten volle besit nie. Dit behoort ons dus te weerhou van ideologiese afgesloteheid. Om “algemeen” te bely beteken dat ons nie tevrede kan wees deur net binne ons eie grense te leef nie. Ons behoort oop te wees vir gesprek met ander Christene, selfs waar ons diep verskil. Dit help ons om verdeeldheid nie as die laaste woord te aanvaar nie, maar as ’n gebroke deel van ’n groter liggaam. “Algemeen” vra ’n pastorale ingesteldheid. Die woord Algemeen in die geloofsbelydenis is ’n profetiese herinnering dat die kerk méér is as die verskeurde instellings wat ons sien. Dit roep ons om in nederigheid te bely dat ons net ’n deel van die geheel is – en dat die geheel in Christus se volheid lê.




Comments