top of page

Cas Wepener se “Die gif in vergifnis en wrede vrede” in Kerkbode: ‘n Ideologies-kritiese evaluering

 Toe ek hierdie artikel lees kon ek nie anders om weer en weer te dink oor wat die artikel eintlik vir die leser daarvan wil sê nie.  Binne ons ideologiese gelaaide samelewing is dit nodig om kritiese die potensiële onderliggende aannames, magsverhoudinge en kulturele beïnvloedings van die artikel te ondersoek  Die kritiese vraag is seker: Wie se perspektief word beklemtoon? Wie se belange word gedien? Is daar onbewuste ideologiese invloede wat ‘n bepaalde siening versterk of beperk?  Dan eers kan ons werklik verstaan wat om daarvan te maak.  Kom ons kyk:

Cas Wepener se artikel oor vergifnis en vrede plaas ‘n kritiese lens op oppervlakkige versoening en vra of sekere idees van vrede en vergifnis nie eintlik onreg in stand hou nie.   Hy begin deur die begeerte na vrede te ondersoek en gebruik Peter Tosh se woorde om ‘n onderskeid te tref tussen ‘n valse vrede en ‘n geregtigheidsgerigte vrede.  Hierdie vertrekpunt vorm die ideologiese grondslag waar hy die idea van vrede as ‘n neutrale, wenslike toestand beklemtoon deur dit te koppel aan ‘n magsdinamika en strukturele ongelykheid in ons samelewing.  Hy wys daarop dat die blote afwesigheid van konflik, ‘n geldige definisie van vrede is en plaas dit in ‘n sosio-politiese raamwerk waar onreg en ongelykheid steeds bestaan.  Hierdie interpretasie lê veral naby aan kritiese teorie en die bevrydingsteologie wat argumenteer dat vrede nie net ‘n passiewe toestand is nie, maar ‘n aktiewe strewe na geregtigheid voorstaan.

Die ideologiese posisisionering van die benadering is dat dit ‘n liberale en sosiaal-konserwatiewe siening van vrede uitdaag wat dikwels vrede met orde en stabiliteit wil gelykstel.  Dit plaas vrede in ‘n politiese en etiese konteks eerder as ‘n blote emosionele of geestelike toestand.  Wepener se benadering is ook struktureel-krities, wat beteken dat hy nie vrede as ‘n persoonlike saak van innerlike rustigheid beskou nie, maar as ‘n samelewingsvraagstuk wat sistemiese verandering vereis.

 

Wepener verbind sy kritiek op oppervlakkige vrede met ‘n kritiek op vergifnis sonder geregtigheid. Hy gebruik Biskop Desmond Tutu se metafoor van die gesteelde fiets, asook Nathan Trantraal se digwerk, om te wys dat vergifnis dikwels van benadeeldes verwag word sonder dat geregtigheid geskied. Die onderliggende ideologiese strekking  plaas vergifnis binne ‘n historiese en politieke raamwerk, spesifiek met betrekking tot post-apartheid Suid-Afrika.  Sy verwysing na Nathan Trantraal se gedig impliseer ‘n strukturele kritiek teenoor hoe vergifnis ná apartheid geïnstrumentaliseer is om bestaande ongelykhede te handhaaf.  Hy verwerp die idee van vergifnis as ‘n morele verpligting sonder daadwerklike geregtigheid en herstel.

 

Die ideologiese Implikasies hiervan is dat dit ook ‘n neo-liberale versoeningsnarratief uitdaag, waarin vergifnis gesien word as ‘n persoonlike etiese keuse, sonder dat sistemiese ongelykheid aangespreek word.  So ‘n standpunt weerspreek ook ‘n suiwer evangeliese verstaan van vergifnis as iets wat individueel en onvoorwaardelik moet wees.  In plaas daarvan vereis sy benadering ‘n herstel van onreg (soos in bv. Restoratiewe Geregtigheid).   Hierdie benadering het sterk politiese implikasies veral in ‘n land soos Suid-Afrika, waar historiese magstrukture steeds ongelykheid bepaal.

 

Wepener vra hoe dikwels besluite in (kerk)vergaderings geneem word "ter wille van rus en vrede" eerder as ter wille van geregtigheid". Hy impliseer dat die kerk dikwels kompromieë maak om konflik te vermy, eerder as om werklik standpunt in te neem vir geregtigheid.  Hy bevraagteken die tradisionele rol van die kerk as vredemaker, deur te vra of hierdie "vrede" nie soms eintlik net die status quo beskerm nie.  Met hierdie benadering is sy kritiek in lyn met bevrydingsteologie, wat argumenteer dat die kerk ‘n profetiese rol moet speel in sosiale geregtigheid, eerder as om ‘n neutrale bewaarder van “orde” te wees.  Die ideologiese implikasies hiervan is dat dit geïnterpreteer kan word as ‘n uitdaging teenoor kerk-instellings wat meer belang heg aan institusionele stabiliteit as aan profetiese optrede.  Hierdie benadering bots ook met ‘n meer tradisionele Christelike verstaan van die kerk as ‘n plek van neutraliteit en versoening, en plaas dit eerder as ‘n aktiewe agent van geregtigheid.

 

Cas Wepener se artikel kan dus gesien word as ‘n kritiese ondersoek na hoe vrede en vergifnis as ideologiese instrumente gebruik word om onreg te verbloem. Hy trek ‘n duidelike lyn tussen oppervlakkige versoening en ware geregtigheid, en gebruik ‘n sosiaal-kritiese lens om die Christelike verstaan van hierdie konsepte uit te daag. Hierdie artikel bied ‘n kragtige etiese uitdaging teenoor ‘n gemaklike verstaan van versoening terwyl dit ‘n profetiese kritiek is op hoe Christelike begrippe dikwels misbruik word om magsbelange te beskerm.  Dit plaas Christelike vredesideale binne ‘n historiese en sosiale konteks, eerder as net ‘n abstrakte geestelike ideaal.

Die artikel het egter ook potensiële beperkinge en kan dus gekritieseer word veral omdat dit maklik kan verval in ‘n suiwer politiese narratief waarin Christelike vergifnis net as ‘n sosiale kwessie gesien word eerder as ‘n geestelike werklikheid.  Dit kan ook verkeerd geïnterpreteer word as ‘n pleidooi teen vergifnis, terwyl dit eerder ‘n pleidooi vir vergifnis mét geregtigheid is.  ‘n Fyner balans tussen Christelike genade en sosiale geregtigheid word egter  vereis, iets wat ons moet erken, nie maklik is nie.

 

Met dit alles gesê is Wepener se skrywe tog ‘n beroep tot ernstige nadenke vir die leser:  Soek ek vrede en vergifnis omdat dit my gemaklik maak, of omdat dit reg en geregtig is?  Dit is ‘n vraag wat nie net polities of moreel beantwoord moet word nie, maar biddend voor die aangesig van Christus, die regverdige en barmhartige Koning.

 
 
 

Recent Posts

See All

Commenti

Valutazione 0 stelle su 5.
Non ci sono ancora valutazioni

Aggiungi una valutazione
Comments

Share Your ThoughtsBe the first to write a comment.
bottom of page