Bybels én Christusgelykvormig
- Andre Mouton
- Sep 21
- 2 min read

In ons huidige gesprekke in die kerk oor waarheid, eenheid en die kerk se roeping, hoor ons dikwels twee terme: Bybels (“Biblical”) en Christusgelykvormigheid(“Christ-like.”) Albei klink bekend, albei dra gesag, maar dit is tog nie presies dieselfde nie. Wat is die ooreenkomste, die spanninge, en die manier waarop ons dit kan saambring.
Wanneer ons sê iets is Bybels, bedoel ons dat dit gewortel is in die Skrif as God se Woord. Paulus herinner Timoteus:“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en nuttig tot onderrig, weerlegging, regwysing en onderwysing in die geregtigheid” (2 Timoteus 3:16). As ons Bybels daarna kyk, roep dit ons dus op tot getrouheid aan die teks, en beskerm ons teen ’n selfgemaakte geloof of ’n eie wil wat los van God funksioneer. Maar die gevaar is dat ‘n slegs bybelse benadering dit soms reduseer tot ’n bepaalde lees of selfs ’n selektiewe hantering van tekste, wat wetties of koud kan word – iets waarvan Jesus self die Fariseërs gewaarsku het (Matt. 23:23).
Wanneer ons sê iets is Christusgelykvormig bedoel ons dat dit gevorm is na die beeld van Jesus Christus. Paulus stel dit so: “Word my navolgers, soos ek die van Christus is” (1 Kor. 11:1). Christusgelykvormig beteken liefde, gasvryheid, selfopoffering en gehoorsaamheid aan die Vader tot die dood toe (Fil. 2:5–11). Dit herinner ons dat die doel van ons geloof nie net kennis of die regte leer is nie, maar bedoel gelykvormigheid aan Christus. Tog kan hierdie term verwater tot ’n vae morele ideaal as dit nie in die Skrif geanker bly nie.
Karl Barth help ons om hierdie twee terme in verhouding te hou. Hy sê: “Jesus Christus is die enigste Woord van God wat ons moet hoor, vertrou en gehoorsaam.” (Barmen Verklaring, 1934). Daarmee wys hy dat Christus die sentrum en inhoud van die Skrif is. In sy Kirchliche Dogmatik beklemtoon Barth dat die Bybel nie ’n boek vol losstaande waarhede is nie, maar die getuienis wat na Christus wys. Sonder Christus as sleutel, bly die Bybel geslote; sonder die Bybel as getuienis, word Christus ’n selfgemaakte ideaal. Die een beskerm die ander.
Ons kan dit só stel: Die Bybel beskerm ons teen ’n Christus na ons eie beeld terwyl Christus ons weer beskerm teen ’n Bybelsheid wat sonder liefde en genade is. Wanneer ons dus vra: “Is dit Bybels?” moet ons ook vra: “Is dit Christusgelykvormig?” En wanneer ons sê: “Dit is Christusgelykvormig” moet ons vra: “Is dit gegrond in die Skrif?”
Hierdie balans vir ons as kerk vandag is onontbeerlik. Die pad van eenheid loop nie deur om “Biblical” en “Christ-like” teenoor mekaar uit te speel nie, maar om in nederigheid te erken dat die Bybel sy volheid kry in Christus, en dat Christus sigbaar word deur die Bybel. Só kan ons bely saam met Johannes: “Die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou” (Joh. 1:14).
Mag ons gesprekke oor waarheid en eenheid altyd hier begin – nie in ’n keuse tussen Bybel of Christus nie, maar in die ontmoeting met die lewende Woord wat ons roep tot geloof, liefde en gehoorsaamheid.
Comments