7 van 7: Van eiewysheid na wysheid
- Andre Mouton
- May 12, 2024
- 2 min read

Wysheid groei waar die Gees ons denke en gedrag verander. Om wysheid te bekom, is om in jou waarneming, gesindheid, denke en dade al hoe meer aan die beeld van Christus gelykvormig te word. 10 Volgens Spreuke 1:7 is die beginsel van wysheid die “vrees van die Here”. Om die Here te “vrees” is om deur Hom gefassineer en in verwondering te wees. Om met wysheid te leef is om daarop ingestel te wees om soos Jesus Christus te dink en op te tree. Dieselfde gesindheid moet in ons wees wat ook in Christus Jesus was (Fil 2:5). Die woord vir gesindheid hou hier verband met die woord “phronesis” of wysheid. Jesus se gesindheid is een van selfontlediging en radikale diensbaarheid. “…Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis” (Fil 2:7-8). Wysheid in die Bybel is nie dieselfde as praktiese vindingrykheid of “common sense” nie. Dit is nie eiewyse vernuftigheid wat mense met slim woorde wil oortuig en uitkomste wil manipuleer nie. Dit is nie om met argumente en bewyse die posisies wat reeds vooraf ingeneem is te regverdig nie. Dit is ook nie om liewer die vrede te bewaar en te swyg wanneer moeilike vrae gevra moet word nie. Om wys op te tree is iets anders as om die gewilde pad te soek. Die profeet Miga verwoord die aard van wysheid prakties. Die volk het vrae oor wat Jahweh se wil nou eintlik is. Miga sê vir hulle: “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam [ootmoedig, nederig] sal lewe voor jou God. Om die Here te dien, dit is wysheid” (Miga 6:8). 11 Jakobus sê: “Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak” (Jak 3:17-18). Veral in Ou-Testamentiese tekste sien ons hoe die teenpool van wysheid beskryf word. Dwaasheid is nie verstandelike beperking nie, maar ’n leefwyse van selfgerigtheid en liefdelose gedrag. Wysheid hang saam met die inwoning van die Heilige Gees. Die Gees oortuig ons van die liefde van die Vader en die genade van die Seun. Die Gees bewerk dit so dat die vrug van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22), nie ‘n teoretiese ideaal bly nie, maar die praktyk word van mense wat in verhouding met mekaar lewe.
Comments