6 van 7: Van finale sekerheid na helderheid
- Andre Mouton
- May 11, 2024
- 2 min read

’n Saak word vir ons helder na mate daar meer lig daarop val en verskillende kante daarvan duideliker waargeneem word. Helderheid is die gevolg van langdurige en volgehoue ondersoek en gesprek.’n Soeke na helderheid voorkom dat ‘n saak vinnig verteken en polarisasie versterk word. Die lense vir waarneming word liewer skoner gemaak om skerper te kan sien wat werklik tersake is. Helderheid is nie om ‘n finale siening oor ’n saak te bereik nie. Dit is eerder die besef dat hoewel alles nie klaar gedink, gesê en gehoor is nie, dinge vir die huidige wel in ’n duideliker lig gestel kan word. Groter helderheid is van ouds af wesentlik deel van die wandel met God. Psalm 19:9 lui: “Die gebod van die Here is helder: dit gee insig”, en Spreuke 4:18: “Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is”. Petrus beklemtoon die belang van duideliker insig wanneer hy sê hy wou sy lesers “weer helder laat dink deur julle te herinner aan die woorde wat vroeër deur die heilige profete verkondig is…” (2 Pet 3:1). Die lewe in die geloof is vir Paulus ’n groei na volwassenheid en ’n vordering op die uitnemende weg van die liefde. Deur die liefde word die gelowige se oë gaandeweg geopen om die raaiselagtigheid van die lewe al hoe helderder in God se lig te onderskei. Groter helderheid is die gevolg van die werk van die Heilige Gees in die gemeenskap van gelowiges. Paulus skryf in Romeine 12:2: “...laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is”.
コメント