5 van 7: Van kompromie na konsensus
- Andre Mouton
- May 11, 2024
- 2 min read

Wanneer mense met mekaar gesprek voer en van dít wat hulle met mekaar deel, bewus word, begin konsensus ontwikkel. Goeie gesprek, waarin gepraat én geluister word, bring gewoonlik verskillende opsies oor ‘n saak op die tafel. Waar die groep hierdie moontlikhede in balans tot mekaar erken, kan dit as die konsensus vir hiérdie tyd en omstandighede aanvaar word.
Konsensus is altyd voorlopig. Dit is altyd plaaslike konsensus, onder hierdie omstandighede, vir die huidige, met die lig waaroor ons tans beskik. Dit is nie ‘n sekerheid wat vir altyd geld nie. Konsensus nooi almal uit om volgens ’n bepaalde oortuiging op te tree, tot tyd en wyl ’n later onderskeidingsgesprek dalk ’n nuwe konsensus na vore bring. Konsensus is die betekenis wat ‘n groep mense gemeenskaplik vind. Dit is nie ’n onderhandelde skikking nie. Dit kom nie neer op “gee en neem” totdat die meerderheid gelukkig is en reken hulle sal op ’n manier kan saamleef met die uitkoms van die gesprek sodat almal maar net “aanbeweeg” nie. Dit is ook nie ’n kortstondige uitkoms om tyd te wen vir ‘n bepaalde standpunt wat uiteindelik as die oorwinnaar uit die gesprek wil tree nie. Konsensus is moontlik waar deelnemers aan die gesprek aanvaar daar is ’n verskeidenheid van legitieme perspektiewe.
Paulus sê vir die Korintiërs: “Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk” (I Kor 12:13). Hy skryf aan die Filippense: “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe...” (Fil 2:1-2). Die belangrikste rede waarom gelowiges konsensus soek, is omdat hulle een is in Christus. Konsensus oor komplekse sake is nie vir die gemeente van Christus wensdenkery nie. Dit is eie aan die kerk - en dit is moontlik.
Commentaires