3 van 7: Van debat na dialoog
- Andre Mouton
- May 9, 2024
- 1 min read

Dialoog vind plaas wanneer gespreksgenote hulleself met ’n ontvanklike gemoed vir mekaar oopstel en nie vinnig antwoorde probeer gee nie, maar toelaat dat vraag en antwoord as’t ware heen en weer tussen hulle beweeg. Hierteenoor wil debat dikwels ’n bepaalde onwrikbare posisie handhaaf en word dit maklik ‘n twisgesprek, gemik op ‘n keuse tussen vaste, teenoorstaande standpunte. Gespreksgenote in ‘n dialoog is daarop ingestel om na mekaar te luister. Egte dialoog maak verhoudinge sterker, laat groei begrip vir mekaar se menswees en verbeter insig oor ‘n saak. Dialoog kom volop in die Bybel voor. Wanneer God ná die sondeval met die man en vrou praat, bring opregte vrae en antwoorde insig oor dit wat skeefgeloop het (Gen 3).
Wanneer die profeet Natan met koning Dawid dialoog voer, vind ‘n ontmaskering plaas (2 Sam 12). Die Psalms en die profete bied voorbeelde van egte gesprekke met indringende vrae en soms verrassende antwoorde tussen God en mens. In die Evangelies hoor ons hoe Jesus en sy dissipels talle gesprekke voer. Jesus is ook deurlopend in gesprek met die godsdiensleiers wat sy motiewe bevraagteken. Sy antwoorde en teenvrae lei tot groter begrip. Paulus se tekste bied uitnemende voorbeelde van indringende dialoog. Met sy gesprekstyl van vrae en antwoorde bring hy verheldering. Die Gereformeerde teologie beklemtoon God se openbaring as ’n ontmoeting deur taal heen. Die God van die Bybel is ‘n God wat met ons praat en na ons luister. Die beweging van debat na dialoog berus op verhoudingsteologie. Dialoog vestig en versterk die verhoudings tussen God en mens en tussen mense onderling.
Comments