top of page

2 van 7: Geloof en Gesprek



Christene streef daarna om die goeie wil van God te gehoorsaam. Dit is egter nie altyd voor die hand liggend wat die beste keuse is om te maak om binne God se wil te bly nie. Daarom kan ons nie anders as om aan te hou soek na die wil van God nie. Hiervoor het ons mekaar nodig. Dit is nie goed om net op jou eie te onderskei nie. Ons glo die Bybel lig ons in oor die wil van God vir ons hele lewe. Die Bybel bied egter nie vir ons glashelder voorskrifte oor elke moderne saak nie. As dit so was, was al ons vrae vinnig opgelos. Gelukkig weet ons, soos die Algemene Sinode in 2011 dit gestel het:


“Hoe ingewikkeld ons probleme ook al is - wanneer ons in gesprek met mekaar daaroor bly en bid dat ons liefde sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling om die dinge te onderskei waarop dit werklik aankom, sal ons in die lig van die Skrif die rigting kan peil waarin ons die oplossing moet soek” (sien Fil 1:9-10).


 Onderskeiding vind die beste plaas deur gesprek. Ook in die Bybel self sien ons tekens van gesprek. Die Bybel het ontstaan in gesprek tussen God en mense, tussen mense onderling, en tussen mense wat in verskillende tye op verskillende plekke geleef het. In die teologie hou hierdie siening van hoe die Bybel ontstaan het verband met die sogenaamde “organiese inspirasieleer”. Die Gees het die Bybelskrywers nie “meganies” gelei nie, maar hulle persoonlikhede en omstandighede juis in die skryfproses ingeskakel. Die Gees het hulle in hul menslikheid en besondere  omstandighede geïnspireer om oor God te praat. Daarom het die Woord telkens in nuwe tye vir gelowige mense nuut geword. Die Gees lei ons as moderne lesers vandag ook deur ons in óns omstandighede by die gesprek wat in die Bybel plaasvind te betrek.

Ons vind ‘n mooi raamwerk vir ‘n gelowige interpretasie van God se Woord in die volgende formulering van die Algemene Sinode van 2004:

1.      Die Bybel is die Woord van God en is daarom gesagvol oor ons hele lewe. Dit is betroubaar, duidelik en voldoende.

2.      Ons denkvermoë word nie uitgeskakel wanneer ons die Bybel lees nie.

3.      Die kerk soek onder leiding van die Heilige Gees as geloofsgemeenskap na dit wat God deur sy Woord in ons tot stand bring. Hierdie soeke geskied nie sonder verantwoordelike Skrifinterpretasie nie.

4.      Die kerk mag in elke tyd anders oordeel oor die beste reëls en metodes vir verantwoordelike Skrifuitleg.

5.      Ons is daartoe verbind om in gesprek te bly met mekaar en met ander, as deel van die kerk van alle eeue, om die dinge te onderskei waarop dit aankom (Fil 1:9-10).

Recent Posts

See All
Hoe en Waarom Ons God Dien

'n Nuttige manier om na die verhouding tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament te kyk is om te veronderstel dat die ou testament...

 
 
 

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
Comments

Share Your ThoughtsBe the first to write a comment.
bottom of page