2. Klem op Liefde en Versoening
- Andre Mouton
- May 16, 2024
- 1 min read

Na aanleiding van die tugproses wat deur die Sinode van 2022 (Namibië) gelei is, of soos dit genoem word in die besluit: "oproep tot diepgrondige bekering", is dit noodsaaklik om te weer te dink oor die aard van tug en sy rol in die kerk. Jesus se woorde in Matteus 18:15 is die kern van die kerklike tugproses. Hierin beklemtoon Jesus die belangrikheid van 'n liefdevolle en persoonlike benadering wanneer 'n broeder of suster in sonde geval het. Die konteks van gemeenskap en eenheid, waarin Jesus teenwoordig is, onderstreep die noodsaaklikheid van 'n gees van versoening en liefde in tug. Tug behoort nie 'n openbare aangeleentheid te wees nie, maar 'n intieme uiting van gemeenskap in Christus. Die gees van vergifnis en versoening, soos deur Jesus geleer, behoort die sentrale fokus te wees van kerklike dissipline. Dit is nie 'n proses van vernedering of verdeling nie, maar van liefdevolle herstel en versoening tussen broeders en susters. Kritiese selfondersoek is 'n vereiste vir almal betrokke in die tugproses. Die roeping van die kerk is om die genade van God aan alle mense te verkondig, en dit moet die riglyn wees in alle kerklike besluite en optrede. Die genade van God is die krag wat die kerk in staat stel om soos Hy bedoel het te funksioneer, en dit moet duidelik wees in die manier waarop die kerk optree en besluite neem.
Comentarios