Voldoening aan die Wet: Resultaat of Voorwaarde
- Andre Mouton
- Oct 21, 2024
- 5 min read
Ek dink die konsep dat Jesus die wet kom vervul het, is een van die aspekte van Christelike geloof wat deur baie verkeerd geinterpreteer word. Dit lei soms tot verwarring en dikwels ook na die interpretasie dat ons nie meer nodig het om aan die wet te voldoen nie. Sonde is OK en deur genade sal ons altyd vergewe wees. Die grootste deel van die 10 gebooie gaan immers oor morele sake. Ek wil graag hier probeer om ‘n saak hieroor te stel.
Die heel belangrikste wat el glo ons moet verstaan is waar die wet inpas in ons lewe as gelowiges. Die grootste enkele verskil tussen die Christelike geloof en die Joodse of selfs die moslem geloof is juis waar die wet (en rëels) inpas in ons geloofslewe. Die verskil in kort is die pad na verlossing - Vir ‘n Christen kom die pad deur geloof in God terwyl die ander gelowe wat ek genoem het fokus op goeie werke as die weg na regverdigmaking of te wel redding.
Deur te fokus op moraliteit/wet is soos om te probeer om simtome te dokter wanneer jy terminaal siek is. Die wet as fokus het die doelstelling van ‘n ideale morele lewe. Selfs mense wat niks van godsdiens weet nie, kan meeste van hierdie morele doelwitte hê. Jy hoef dus nie te glo om dit as doelstelling van jou lewe te hê nie.
Jesus het met sy koms vir ons kom verduidelik hoe ons na moraliteit moet kyk. Moraliteit of sondebewustheid is goed en is ons spieël. Jesus het vir ons die konteks van die wet kom stel. Jesus het die Fariseërs gekritiseer, nie omdat hulle die wet belangrik ag nie, maar omdat hulle die wet bo hul verhouding met God plaas.
Waarvoor mens ook baie versigtig moet wees is om die wet te gebruik,nie as maatstaf van ons eie lewe nie, maar waarteen ek ander wil oordeel. Daar is nie ‘n probleem om mekaar te help om struikel blokke in ons lewens aan te spreek nie, dit gaan weereens oor hoekom ek dit wil doen. Wil ek oordeel of wil ek help om God se koningkryk uit te bou. Die wet kan gebruik word om mag oor ander te kry, maar ook om myself te verhef. Dit is presies wat die fariseer in sy gebed gedoen het teenoor die tollenaar. Ander verwysings is die balk in jou eie oog, As jy nie sonde het nie, tel die eerste klip op. Wat Jesus vir ons wil kom sê is dat ons die oordeel vir Hom moet los.
Ons rol moet binne die liefdesgebod val. Ek glo dit beteken om diensbaar te wees. Ons moet daar wees om ander gelowiges (of medesondaars) by te staan in hul stryd op hulle geloofspad. Nie om te oordeel nie, want dit is in persoonlike saak tussen elkeen en God.
Daar is baie voorbeelde in die Bybel wat dui daarop dat God al baie sondige mense of self vyande van Hom, gebruik het om Sy doelwitte te bereik. (Dawid, Simson, Paulus en nog meer). Sonde is dus nie ‘n diskwalifikasie om bruikbaar vir Hom te wees nie. Wat Jesus kom leer het en wat ons moet verstaan, is wat God werklik van ons verwag. Ek glo dit is dat ons in Hom moet glo en daarmee saam Hom bo alles lief moet hê. Dit kan dan nie anders as om ook ons verhouding met mense rondom ons te rig nie – alle mense. As ons hierdie pad volg sal ons die wette nakom of poog om dit na te kom. Dus raak die wet ‘n definisie van ‘n Christen se lewe eerder as ‘n voorwaarde. In christenskap is voldoening aan die wet dus ‘n resultaat, nie ‘n voorwaarde nie. Iets wat ons sal wil doen as ons glo en ons lewe in liefde wil rig. Dit is ‘n soort naiwiteit wat uit ons moet straal. Dit is wat ek glo Jesus bedoel het toe Hy gesê het ons moet soos kinders glo.
Jesus het dit duidelik kom maak dat ons nie ons saligheid kan verdien nie. Wat ons ookal probeer om te doen vir ons eie ontwil, gaan nie ons saligheid koop nie. As ons dink ‘n wetsgehoorsame lewe gaan God se guns wen, maak ons ‘n fout. As ons dink ons gaan dit op ons eie reg kry maak ons nog ‘n groter fout. Veral as dit oor onsself gaan. My redding. My vrees vir die hel.
Jesus wil nie hê ons moet uit vrees die wet volg nie. Voldoening aan die wet moet dus volg uit ons liefde vir God en ook liefde vir ander mense. Deur te fokus op vrees verswak ons,ons vermoë om ons doel te bereik. God wil hê ons moet glo in Sy almag! Ons moet Hom nie verkleinneer deur mag aan die bose te gee nie. Lig verdryf immers die donker en nie andersom nie. Net as ons die lig dood maak gaan die donker ons oorval.
Almal wat aan Hom glo sal die genade ontvang om vergewe en gered te word, maar saam met dit wil God ook ons die vermoë gee om verantwoordelikheid vir ons lewe te neem. Nêrens wil Jesus ons verantwoordelikheid vir ons eie lewe weg neem nie. Daar word immers geskryf: “Ek staan by die deur en Ek klop”. Ek moet dus oopmaak. Dit is my verantwoordelikheid om op Sy klop te antwoord.
Wat die voldoening aan die wet haalbaar maak is hoekom ons dit wil doen. Omdat Hy ons red, omdat ons glo, gee Hy vir ons die vermoë, deur sy genade om so te lewe dat dit God behaag. En dan hoe ons dit doen. Deur daagliks te fokus op hoe ons in Sy diens staan, lei ons op ‘n pad van voldoening aan die wet. Op Jesus se manier van doen. Dit het Hy ons kom wys toe hy aarde toe gekom het. Jesus wys ons die weg deur die waarheid na die lewe.
Ons is naïef as ons dink God red ons om ons ontwil. God red ons om in Sy diens te gaan staan en tot diens van ons medemens. Deur Sy genade en uit dankbaarheid streef ons na ‘n lewe in Sy diens en waar ek tot voorbeeld van ander kan wees sodat ons gereed kan wees om ander by te staan op elkeen se weg na redding en heiligmaking.
Die wet is dus ‘n lewenswyse wat God se kinders begeer deur Sy genade. God verwag nie van ons om ander se lewe te beoordeel nie, Wat Hy wel van ons verwag is dat ons deur dankbaarheid vir ons eie redding, tot diens van Hom staan. Daarvoor is ons gered.
Wat ek daarvan verstaan is dat ek my lewe so moet rig dat dit tot diens van God is waardeur ek ander kan help tot geloof in God. Ook om ander gelowiges te ondersteun om hul geloof in God te versterk. Ons moet deurentyd onthou dat geloof sonder disipelskap (diensbaarheid) is soos om op ‘n passasierskip te sit en te glo dat die skip vir my plesier is en op pad is na my bestemming. Geloof is egter soos om ‘n matroos op ‘n oorlogskip te wees wat elkeen ‘n rol het en saam werk om die missie van die Bevel van die skip uit te voer.
Die Hemel is dus nie my bestemming nie, maar my hemelse prys (Fil 3:14). So is voeldoening aan die wet nie ‘n doel nie maar ‘n natuurlike uitvloeisel van jou aanname en verhouding met Hom.
Wat ek graag wil he elkeen van ons moet verstaan is dit. God wil hê ons moet Hom Antwoord op sy roepstem om Hom te volg en Hom lief te hê, met alles wat ons het. Dit is ons verantwoordelikheid om dit te besluit en te leef. As ons dit doen sal Sy liefde ons in staat stel om ‘n lewe te lei wat Hom behaag. Ons sal ook doen waarvoor Hy ons geroep het en dit is om ‘n dissipel van Hom te wees en te werk om Sy koningkryk uit te bou.
Comments