Verdeling sonder uitkoms
- Andre Mouton
- Apr 17, 2024
- 2 min read
Updated: Apr 22, 2024
As lidmaat van ‘n Namibiese gemeente word ek nou gekonfronteer met ‘n hangende skeiding tussen ons en die Algemene Sinode. In my soeke na sin, het ek tot my verbasing agtergekom dat daar in die agtergrond ‘n organisasie is wat ‘n rol speel hierin. Dit is Kairos Netwerk (KN)
Op die KNwebwerf verduidelik hulle hul posisie en plan oor hoe hulle die kerk wil inkeer en daarvan beheer wil oorneem om haar van dwaling te bevry. Die stellings wat gemaak word is gerig, in my opinie op ‘n verdagmaking van die integriteit van die AS en dat hulle die vegters in die trojaanse perd is wat die NGK tot inkeer gaan bring.
Die Fariseers in die tyd van Jesus het geglo hulle besit die volle kennis van die geskrifte en was deur Jesus aangespreek omdat hulle die geskrifte belangriker ge-ag het as God. Geeneen besit die volle waarheid nie.
Die erkenning deur KN dat probleme net van binne opgelos kan word is lofwaardig en is dit die halm waaraan vasgehou moet word. Die aantuigings wat deur KN uitgespreek word kan ook nie onaangespreek gelaat word nie. Dit kan egter net binne ‘n raamwerk van wedersydse respek en in afhanklikheid van God plaasvind.
Geen verdelingsstrategie kan ooit ‘n goeie uitkoms hê nie. Ongelukkig is die enigste plan om voretoe dinge beter te doen deur saam te worstel en tyd te gebruik. Die beginpunt is om die beginsels te bevestig waaroor daar saamgestem word. Die manier waarop dit gedoen word is ook belangrik want dikwels word die stryd in die liefdeloosheid van die argumentering verloor.
Die begrip diversiteit is nie van toepassing op kernbeginsels nie. Diversiteit is waar verskillende sondaars (wat ons almal is) wat verlossing ontvang het, binne ‘n ruimte wat ons as familie beskou, wat ons nie kon kies nie, maar moet liefhê, worstel met sy eie vertwyfelinge oppad na heiligmaking deur Christus te volg. Slegs as ons daagliks elkeen ons eie kruis opneem in navolging van Christus sal ons meer toegerus wees om ander te begelei op hul eie worstelpad na heiligmaking in Christus Jesus.
In wese is die KNbenadering ‘n bedreiging van die eenheid van die kerk en hoort dit onder die tug hanteer te word. Dit is nie in die gees van kerkwees om te baklei nie maar ons het ‘n rol van teregwysing. Dit is belangrik om ‘n proses te kies wat ontlont en fokus op die kerngeloofsbeginsels waarvoor die kerk staan (as middelgrond) en vanuit daai waarheid mekaar dan te begelei binne ‘n raamwerk van eenheid.
Die Algemene Sinode is die verpersoonliking van die kerk se koinonia. Hierdie forum gee ons die geleentheid om voordurend ons broedelike liefde en liefde vir God uit te leef. Hierdie voordurende interaksie hou die kompas van ons wese. As dit in liefdelose kanselasie van andersdenkende lidmate en strukture is, gaan ons gemeenskap tot niet en die kerk gaan in irrelevansie verdwyn. Voordurende selfondersoek (deur jou eie kruis te dra) in ons soeke na die waarheid is ‘n voorwaarde tot ware liefde wat God bo alles sal stel.
Comments