top of page

Op 'n pad vorentoe


Otavi was vandag opp Tsumeb om die Noordering se vergadering by te woon. Ten einde ons posisie oor die afgelope op die tafel te sit het ek die volgende gese:

ree

Ons staan vandag as Ring ná ’n Sinode wat beslissend en vir ons pynlik was.

Twee kernbesluite lê nou op ons tafel:

Eerstens, dat ons as NG Kerk in Namibië afstand neem van die Algemene Sinode.

Tweedens, dat ons die dokument Bely teenoor mekaar aanvaar het as ’n roepstem tot selfondersoek en versoening.

Wanneer ek na hierdie situasie kyk, hoor ek die stem van Paulus in 1 Korintiërs 3:

“Ons is medewerkers van God; ons is God se bouers. Niemand kan ’n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie – dit is Jesus Christus.” Die vraag waarmee Paulus die gemeente in Korinte gekonfronteer het, tref my ook hier: op watter fondament bou ons?

Ons het groot besluite geneem, en elkeen van ons het seker sterk gevoelens daaroor. Maar as dit nie op Christus gebou is nie, sal dit nie staande bly nie.

Die besluit om afstand te neem van die Algemene Sinode het die fondament ernstig getoets. Dit wys hoe diep die spanning is, hoe moeilik dit geword het om saam ‘n pad te loop. Hierdie besluit is ’n werklikheid wat ons nie kan ontken nie. Maar die vraag is steeds: hoe bou ons vorentoe? Bou ons op Christus, of aan ons eie posisies?

Die tweede besluit – Bely teenoor mekaar – herinner ons dat verdeeldheid nie net prosedure of kerkorde raak nie, dit raak die tempel van God self. Paulus waarsku: “As iemand die tempel van God afbreek, sal God hom afbreek.” Dit is harde woorde, maar dit bring ons tot die kern: ons kan nie net van mekaar afstand neem en dink dit is klaar nie. Ons moet ook bely waar ons mekaar seer gemaak het, waar ons die tempel gekraak het.

Vir my lê die genade daarin dat ons albei hierdie besluite saam moet lees.

Die een wys ons op die realiteit van skeiding, die ander roep ons na Christus om te bely en te genees.

Sonder die eerste sou ons dalk nooit die diepte van ons verdeeldheid raakgesien het nie.

Sonder die tweede sal ons nooit kan opbou nie. Daarom is my pleidooi eenvoudig: Laat ons as Ring nie bly staan by die feit dat afstand geneem is nie, maar laat ons die dieper roepstem hoor: dat ons weer moet bou op Christus alleen. Hy is ons fondament, ons bouplan, ons wysheid en ons vrede.

As ons dit ernstig opneem, sal ons vra:

• Hoe bou ons plaaslik – in gemeentes, in hierdie Ring

• Hoe laat ons die dokument Bely teenoor mekaar nie net op papier wees nie, maar werklik ’n weg van selfondersoek, skuldbelydenis en versoening?

• Hoe kan ons mekaar dra as medewerkers van God, selfs in ons verskil?

Mag ons in alles onthou: ons is nie van Paulus of Apollos nie, nie van die Algemene Sinode of van die Namibiese Sinode nie – ons is van Christus. Hy is die enigste fondament.

 
 
 

Recent Posts

See All

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
Comments

Share Your ThoughtsBe the first to write a comment.
bottom of page