top of page

Luister sonder om te hoor




Dit is ongelooflik hoe party mense alles wat hulle lees en hoor eers wil kategoriseer (in ‘n boks wil sit) en dan vanuit hulle persepsionele hoek of boks reageer.  Die reaksie is dan teen die hele  kategorie(boks) se definisie en baie keer word dit gelees in die ekstreme kante daarvan, in stede van na die spesifieke bedoeling van wat geskryf word, te soek. Dit mag mos nou ook wees dat jy die skrywer selfs in ‘n verkeerde boks plaas.  Selfpreservering is seker maar ‘n verdedegingsmeganisme.  In plaas van om die kerk as ‘n veilige ruimte te sien waarbinne ons mag twyfel en mekaar kan begelei op elkeen van ons se pad na heiligmaking en die Here te vertrou dat Hy ons deur sy genade sal lei.

Miskien kan en wil ons nie blootgestel word aan introspeksie wat die uitdaging mos is van ‘n ander opinie wat beoordeel moet word nie.  Of jy nou reg of verkeerd is in ‘n potensiele argument, maak nie ‘n verskil nie.  Nou kanseleer ons eerder die skrywer van ‘n brief of artikel deur opmerkings te maak soos “Hoe kan die Kerkbode jou brief plaas”.  Dit is so asof die aanname bestaan dat almal reeds soos jy verstaan en die wêreld net deur een bril gesien word.  Die briewekolom van ‘n gebalanseerde tydskrif is juis daar om geleentheid te gee tot verskillende invalshoeke tot dieselfde onderwerp wat jy mos kan internaliseer of verwerp.  Ons verwag dat ander jou standpunt moet respekteer, so moet elkeen van ons mos ook doen.

Wanneer ons met mense omgaan wat anders dink as ons, moet ons besef dat ons woorde en dade diep seer kan veroorsaak en verdeeldheid kan saai. Soms is ons opinies so sterk dat ons ander mense eenvoudig nie kan raaksien nie. Dit gebeur so baie dat ons óór mense en nie mét mense praat nie.  Die oproep is om te stop en te begin luister sonder vooroordeel. As ons die agtergrond en omstandighede van ander begin verstaan, besef ons dat ons eie persepsie van die waarheid nie altyd die enigste invalshoek na die waarheid is nie. Die erkenning van verskille vereis nie net respek nie, maar ook voortdurende liefde. Om werklik iemand anders te verstaan, moet ons verby ons eie aannames en perspektiewe kyk. Dit kan help om die gaping tussen mense met verskillende sienings te oorbrug en kompromië te vind. Die bou van ons identiteit rondom kernwaardes, eerder as opinies, kan ons help om minder weerstandig teenoor verandering te wees.

Kompromie is nie ‘n vloekwoord nie.  Terwyl verskille mag bestaan, moet liefde ons leiding gee in die strewe na die waarheid, met twyfel (selfondersoek) as 'n katalisator vir reformasie en persoonlike groei.  Meeste sake is  kompleks en het verskeie moontlike antwoorde en uitgangspunte. As ons hierdie realiteit besef, kan ons meer oop wees vir ‘n ander persepsie/hoek van dieselfde waarheid. Twyfel/selfondersoek is 'n noodsaaklike deel van groei en verstaan.

Recent Posts

See All
Gemanipluleer of Vry

Artikel 23.1 van die NG Kerkorde bepaal dat besluite van kerkvergaderings of hul gevolmagtigdes bindend is, mits hierdie besluite nie in...

 
 
 

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
Comments

Share Your ThoughtsBe the first to write a comment.
bottom of page