Die rol van die Moderator in die pad vorentoe
- Andre Mouton

- Aug 22
- 3 min read
Die NG Kerk in Namibië se besluit om bande met die NG Kerk in Suid-Afrika te verbreek, plaas die moderator in ’n rol waar hy nie net ’n besluit oordra nie, maar ook die gesig, stem en gewete van daardie besluit verteenwoordig.
Die kerkregtelike rol van die moderator ná ’n besluit sluit verskeie verantwoordelik-hede in. In die eerste plek verteenwoordig die moderator die Sinode van Namibië as liggaam in soverre dat hy die besluit na buite en binne moet uitdra. Dit beteken dat hy moet seker maak dat die besluit duidelik gekommunikeer moet word. Verder moet hy verduidelik hoekom die besluit geneem is en daarmee saam verduidelik hoe dit in praktyk toegepas gaan word.
Aangesien hy ‘n mandaat van die Sinode ontvang het mag hy nie sy eie standpunt as die besluit aanbied nie. Die gesag lê in die feit dat hy namens die Sinode as kollektiewe vergadering praat. Die moderator kan nie die besluit verander of ignoreer nie – dit kan slegs deur ’n volgende sinodale vergadering verander word en dus mag hy dit nie anders aanbied as die besluit self nie.
Die moderator het ook ‘n pastorale rol binne ’n verdeelde emosionele klimaat aangesien so ’n groot skuif emosies en onsekerheid tot gevolg het. Sommige lidmate voel verlig of bemoedig, ander voel bedroef, kwaad of verward terwyl sommige voel hulle het geen sê gehad nie. Daarom kan lidmate pastoraal verwag om erkenning te ontvang van hul pyn en verskil. ’n Persoon wat ruimte maak vir lidmate om hul hart te deel, sonder om hul lojaliteit dadelik te toets.
Lidmate kan verwag dat die moderator ‘n Christus-gesentreerde troos moet bied dus nie net administratiewe verduideliking nie, maar ’n herfokus op ons eenheid in Christus bo die strukture wat verander het. Dit is verder sy verantwoordelikheid om ‘n brug te bou tussen groepe deur aktief te werk om polariteit te verminder en ’n gesonde gesprekskultuur te vestig.
Die moderator het ook ‘n strategiese rol in implementering aangesien so ’n besluit implikasies het op administrasie, teologie, bediening en verhoudinge met ander kerke.

Die moderator se strategie moet help om ‘n konsekwente boodskap te kommunikeer na gemeentes toe sodat daar nie ’n vakuum ontstaan wat deur gerugte gevul word nie.
Hy moet ook riglyne verskaf wat verduidelik hoe gemeentes verder funksioneer in lig van die besluit en ook hoe die verhoudings met ander kerkverbande bestuur moet word (bv. NG Kerk SA, ander Namibiese kerke, internasionale vennote).
Lidmate kan realisties verwag om in duidelike, eerlike en toeganklike kommunikasie oor die besluit ingelig te word sonder vae of politiese taal. Hulle kan ook ruimte vir vrae verwag wat formele en informele forums insluit waar lidmate hul bekommernisse kan uitspreek wat nederige, luisterende leierskap insluit wat nie net besluite verdedig nie, maar verstaan hoe dit mense raak. Hy moet ook kan verduidelik wat die fokus op die groter roeping van die kerk is en dat die besluit nie die hele identiteit van die kerk oorneem nie maar dat ons steeds primêr Christus dien.
In opsomming wil ek sê dat ná so ’n groot besluit is dit die moderator se rol om die boodskap helder oor te dra, die emosionele klimaat pastoraal te bestuur, en die liggaam van Christus in Namibië te help beweeg in ’n nuwe werklikheid – sonder om die kern van die evangelie te verloor in die hitte van die veranderinge.




Comments