As Ons Almal Maar Net Deur Daardie Dowwe Spieël Kyk
- Andre Mouton

- Aug 29
- 2 min read

Wanneer mense in die kerk sê dat hulle die ware Jesus het, en dat ander ’n ander Jesus volg, klink dit baie oortuigend. Hulle verwys soms na Paulus se woorde in 2 Korintiërs 11 waar hy teen vals leraars waarsku. En dit laat mens amper voel jy mag niks vra of bevraagteken nie, want as jy dit doen, beteken as jy dit glo, staan jy al klaar buite die waarheid.
Tog moet ons mooi luister. Ek glo mense wat só praat doen dit uit ’n opregte begeerte om Christus te verdedig. Hulle is bang die kerk verloor sy koers en sy waarheid. En daardie erns moet ons erken. Maar tog lê daar ook ’n gevaar in sulke sekerheid. Want wie van ons kan regtig sê ons verstaan Jesus volkome? Selfs Paulus het erken: “Nou kyk ons in ’n dowwe spieël.” Ons almal het maar ’n gedeeltelike beeld, ons almal sien net stukkies van die volle prentjie.
Die Bybel leer ons ook nie om sommer alles af te skiet wat vreemd of nuut klink nie. Inteendeel, 1 Tessalonisense 5 sê ons moet alles ondersoek en behou wat goed is. As ons weier om na ander te luister net omdat hulle nie presies ons pad loop nie, maak ons eintlik God se stem kleiner. Dan stel ons ons eie verstaan as die enigste ware verstaan, en sluit ons Christus self toe binne ons eie ideologie.
En dalk is dit juis hier waar die ironie lê: in ons poging om ander van ’n “ander Jesus” te beskuldig, kan ek self eindig met my eie “huisgemaakte Jesus” – ’n Christus wat net bestaan binne my eie teologiese raamwerk en nie meer die lewende Here is wat my verras en verander nie.
Daarom dink ek ons moet op ’n ander manier saam praat. In plaas daarvan om vir mekaar etikette om die nek te hang, kan ons vra: hoe weet ons dat ons Hom reg verstaan, as ons almal maar deur daardie dowwe spieël kyk? Hoe kan ons mekaar help om meer van Christus se volheid te ontdek? En hoe dien dit die liggaam van Christus as ons ander gelowiges sommer wegstoot?
Dalk is dit dan beter om terug te keer na iets eenvoudig: om ons eie getuienis te deel. Kom ons vertel eerder hoe ek die Here self ontmoet het, hoe Hy my lewe verander het. Sulke getuienisse is moeilik om weg te vee, want dit kom uit die hart van ’n mens se pad saam met Christus.
En so kan ons dan uiteindelik sê: “Ja, ek hoor jou erns om Christus te beskerm. Maar onthou – ons almal verstaan Hom nog net gedeeltelik. Kom ons luister saam, ons toets alles, en ons hou vas aan wat waar en goed is. Só eer ons Hom wat regtig die Here van almal is.”




Comments