top of page

Die Vyf Solas as Kernbeginsels van Gereformeerde Geloof




Daar is verskeie geloofsgrondslagte waar binne ons God probeer verstaan.  Ons word deesdae veral met een hiervan gekonfronteer nl. Sola Scriptura. Daar is egter 5 geloofsbegindsels wat as ‘n eenheid gesien moet word.  Die Vyf Sola’s is kernbeginsels wat die Protestantse Reformasie gekenmerk het en vorm die basis waarop ons vandag nog glo in die NGKerk. Hierdie Latynse terme beklemtoon elk 'n unieke aspek van ons geloof. Hierdie is geloofsgrondslagte wat nie op hul eie beskou moet word nie maar is deel van ‘n geheel in ons verstaan  van God.  Laat ons hulle kortliks opsom:

Sola Scriptura (Alleen deur die Skrif) as beginsel beklemtoon dat slegs die Bybel die Woord van God is en vir almal toeganklik moet wees.  Die lees en interpretasie van die Bybel in ‘n eie taal was 'n noodsaaklike deel van hierdie toeganklikheid.  Martin Luther het hom teen die Rooms-Katolieke kerk se leerstelling verset daarteen dat slegs die pous en biskoppe die Bybel korrek kon interpreteer.  Hierdie beginsel het gelei tot die vertaling van die Bybel in verskeie tale, sodat dit vir meer mense beskikbaar was.  Wat ek hier graag wil onderstreep is dat, afhangende van individuele mense, die interpretasie wat aan die Skrif geheg word verwarring by gewone lidmate kan veroorsaak aangesien daar verskeie invalshoeke oor jare ontwikkel het.  Sleutelverse: 2 Petrus 1:20-21, 2 Timoteus 3:16-171.

Sola Gratia (Alleen deur genade) beklemtoon die beginsel dat alleen deur genade die vergifnis van sondes bewerkstellig kan word.  Dit het teen die Rooms-Katolieke aflaatpraktyk ingegaan, waar mense vergifnis kon koop om hul sondes te laat vergewe.  Luther het geglo dat slegs Christus se kruisdood vergifnis kon bring. Dit was 'n daad van genade.  Die sleutelvers wat hierdie beskouing op gebaseer is, is Efesiërs 2:8-9.

Sola Fide (Alleen deur geloof) is onlosmaaklik verbind met Sola Gratia.  Die genade in Sola Gratia is beskikbaar vir dié wat in Christus glo.  Protestante, waarvan die NGKerk deel is, vertrou daarop dat slegs God sondes kan vergewe en verlossing kan bring. Dit is die ware geloof.  Luther het hierdie teologie onder andere op Paulus se brief aan die Efesiërs gebaseer: “Want deur genade is julle gered deur die geloof, en dit nie uit julleself nie; dit is die gawe van God, nie uit die werke sodat niemand kan roem nie” (Efesiërs 2:8-9).

Sola Christo (Alleen deur Christus) daarenteen aanvaar dat die kern van ons geloof as lidmate van die NGKerk, Christus is.  Luther het die Rooms-Katolieke kerk se gebruik van ander figure (heiliges, priesters, Maria) as bemiddelaars vir verlossing verwerp.  Die Reformasie het beklemtoon dat slegs deur Christus (en sy kruisdood) vergifnis verkry kan word en dat ons deur Hom met God in verbind kan word.

Soli Deo Gloria (Aan God alleen die eer) beklemtoon dat alle eer en aanbidding aan God toekom.  Dit is 'n herinnering dat ons lewens ter ere van God is en nie tot ons eie roem nie.

Hierdie vyf sola’s gesamentlik vorm die Protestantse geloofbasis. Hulle is almal belangrik en moet nie in isolasie gesien word nie.  Onthou dat die Bybel ons leer dat ons leef uit dankbaarheid vir die redding wat ons ontvang het deur Sy kruisdood en opstanding en dat ons voordurend ons kruis op ons pad van heiligmaking moet dra sodat ons tot diens kan wees tot ander gelowiges wat ook op hul eie pad is van heiligmaking. Aan God alleen die Eer.

コメント

5つ星のうち0と評価されています。
まだ評価がありません

評価を追加
Comments

Share Your ThoughtsBe the first to write a comment.
bottom of page