top of page

Die Essensie van Kerkwees: ‘n Besinning oor Identiteit, Eenheid, en Liefde

Besinning oor die Kern van Kerkwees

Die leierskap van die Namibiese NG Kerk is besig om 'n voorlegging voor te berei vir die 2025 Sinode met die doel om 'n finale besluit te neem oor die beplande afsnyding van bande met die Algemene Sinode van die Suid-Afrikaanse NGKerk. Hierdie besluit is reeds voorafgegaan deur 'n besluit wat geneem is tydens die 2022 Sinode. Die vraagstuk wat tans voor die gemeentes gestel word, is nie óf ons moet wegbreek nie, maar eerder hoe dit behoort te geskied. Dit is belangrik om, te midde van hierdie ontwikkelings, 'n oomblik te neem om te reflekteer oor die kern van kerkwees en die rede vir die Kerk se bestaan. As lede van die Nederduitsgereformeerdekerk in Namibië (NGKN), het ons die verantwoordelikheid, sowel as die reg, om self as individue te besin. Ons moet dus ons kerkrade ondersteun om in ooreenstemming met die Woord van God te handel en ons elkeen ons bydraes te lewer tot die finalisering van hierdie proses.

Bevestiging van Bybelse Gesag

Die onwrikbare grondslag van ons kerkwees is die Skrifgesag. Dit vorm die basis van ons geloof en praktyk, en binne die NG Kerk is daar geen twyfel oor die gesag van die Bybel nie. Ek deel hierdie oortuiging. Tog moet ons besef dat daar van tyd tot tyd verskille van mening mag wees oor die interpretasie van die Bybel se boodskap. Wanneer die kerk in veranderende tye tot ander besluite kom, beteken dit nie dat die gesag van die Skrif misken word of dat vorige geslagte verkeerd gehoor het of selfs dat die kerk wisselvallig is in haar besluite nie. Dit beteken ook nie dat die Bybel verander het nie. Dit is ons wat verander, ons kennis en omstandighede wat verander het. Ons mag en sal soms tot ander besluite as vorige geslagte kom, omdat ons verder en anders as hulle sien. Ons sien soms verder en anders as ons voorgangers, want ons staan op hulle skouers.

Klem op Liefde en Versoening

Na aanleiding van die tugproses wat deur die Sinode van 2022 (Namibië) gelei is, of soos dit genoem word in die besluit: "oproep tot diepgrondige bekering", is dit noodsaaklik om te herbesin oor die aard van tug en sy rol in die kerk. Jesus se woorde in Matteus 18:15 is die kern van die kerklike tugproses. Hierin beklemtoon Hy die belangrikheid van 'n liefdevolle en privaat benadering wanneer 'n broeder of suster in sonde geval het. Die konteks van gemeenskap en eenheid, waarin Jesus teenwoordig is, onderstreep die noodsaaklikheid van 'n gees van versoening en liefde in tug. Tug behoort nie 'n openbare politieke aangeleentheid te wees nie, maar 'n intieme uiting van gemeenskap in Christus. Die gees van vergifnis en versoening, soos deur Jesus geleer, behoort die sentrale fokus te wees van kerklike dissipline. Dit is nie 'n proses van vernedering nie, maar van liefdevolle herstel en versoening tussen broeders en susters. Kritiese selfondersoek is 'n vereiste vir almal betrokke in die tugproses. Die roeping van die kerk is om die genade van God aan alle mense te verkondig, en dit moet die riglyn wees in alle kerklike besluite en optrede. Die genade van God is die krag wat die kerk in staat stel om soos Hy bedoel het te funksioneer, en dit moet duidelik wees in die manier waarop die kerk optree en besluite neem.

Eenheid en Diversiteit

Die NG Kerk bevestig sy roeping tot eenheid, heiligheid, 'n algemene christelike kerkwees, en apostoliese getuienis, terwyl die oplossing van verskille binne die raamwerk van liefde beklemtoon word. Die wyse waarop ons verskille beleef en konflik binne die kerk hanteer, vorm 'n kritieke deel van ons getuienis as gelowiges. Ons kom sit saam aan 'n tafel waar ons, as geroepe kinders van die Here, binne die raamwerk van liefde mekaar ontmoet om ons verskille op te los. Op hierdie wyse word die Bybel die hoogste bron van gesag in die kerk, en dit lei tot 'n kerklike benadering wat duidelik onderskeibaar is van die wêreld om ons, omdat die kerk in sy essensie anders as die wêreld is. In Romeine 14:1-23 roep Paulus die Christene in Rome op om hulle verskille te aanvaar. Sy boodskap is dat hulle hulleself so moet rig dat hulle nie op die verskille of partye fokus nie, maar op Jesus. Hierdie fokus op Jesus verander die dinamika van die gesprek waarin elkeen probeer om die ander te oortuig om soos hulle te dink en te handel, na 'n gesamentlike soeke om soos Christus te word (Efesiërs 5:21 – 6:9). Die Bybel daag ons dus uit om na te dink oor die hantering van ons verskille, wat dikwels tot verdeeldheid lei wanneer ons op standpunte fokus eerder as om te besin oor wat dit beteken om onderdanig aan Christus te wees.

Eenheid is die wil van God

Die vorming van gemeenskappe is van kardinale belang vir die kerk as God se gestuurde in die wêreld. Ons moet die eenheid van die kerk beskou as 'n saak van dodelike erns. Paulus bepleit in Galasiërs 3:1-5 'n groepsbenadering, waar gelowiges hul geloof in hul gemeenskappe moet uitleef. In hierdie gemeenskappe moet gelowiges verantwoordelikheid neem vir mekaar se geestelike ondersteuning en formasie, soos duidelik blyk uit die vele “mekaar” tekste in die Nuwe Testament. Verdeeldheid en twis trek nie net 'n streep deur die eenheid van die kerk nie, maar ook deur Jesus self. Die kwelvraag is of ons nie besig is om presies dit te doen met die besluit wat voor ons lê nie. Die NG Kerk verklaar in ons Kerkorde dat ons "deur God Drie-enig geroep is om deel te neem aan die missie van God in die wêreld." Dit is tyd dat ons hierdie roeping ernstig opneem, met die besef dat die bewaring eenheid 'n kritieke konsekwensie is van hierdie roeping. Verdeeldheid in die kerk ondermyn die geloofwaardigheid van die gekruisigde Jesus en moet dus ernstig aangespreek word.

Belangrikheid van Selfondersoek

Die klem op begeleiding bo veroordeling bevorder 'n lewe van omgee en empatie wat ander na redding lei. Die oproep om "die sondaar lief te hê, maar die sonde te haat" mag nie volledig strook met die bybelse getuienis oor hoe ons teenoor sonde en sondaars moet optree nie. Die Ou Testament roep ons op om in respekvolle verbintenis met alle mense te leef, omdat die God van Israel Here is van alle volke, tale en nasies. Ons liefde vir God moet ons lei tot 'n lojale verbintenis met mekaar en tot die liefhê van ons medemens. Omdat God ons liefhet, leef ons in liefde met alle mense, terwyl ons onsself losmaak van die sonde. Hierdie benadering plaas die klem op ons eie heiligmaking deur die genade van God, eerder as om 'n oordeel oor ander uit te spreek. Ons moet waak teen 'n Fariseïese houding en eerder fokus op ons eie verlossing en groei, sodat ons ander kan begelei en bystaan in hulle eie reis na redding. Dit is nie altyd maklik om lief te hê nie. Dit vereis moeite en toewyding, soos Paulus aan die Tessalonisense skryf oor die moeitevolle inspanning van hulle liefde. Die lewe van liefde is 'n ritme wat aangeleer en ingeoefen moet word, en wat voortdurende inspanning vra. Dit is nie net 'n gevoel nie, maar 'n manier van lewe wat ons by God leer. Geloof, hoop en liefde is die kern van 'n lewe in gemeenskap met God, en van hierdie drie is liefde die grootste (1 Korintiërs 13:12).

Toewyding aan Christus

 Geloof in Jesus vereis meer as slegs dogmatiese getrouheid; dit verg 'n onwrikbare toewyding aan Sy lewe, dood en opstanding. Die uitdaging vir die kerk is dus nie net om 'n suiwer leerstelling oor Jesus te verkondig nie, maar ook om aan mense te demonstreer hoe 'n lewe wat verbonde is aan die lewe, dood, en opstanding van Jesus lyk. Geloof beteken om met verbondenheid aan Jesus te reageer op die verbondenheid van God. Soos 1 Korintiërs 1:9 sê: "God is getrou, deur wie julle geroep is tot verbondenheid met sy Seun, Jesus Christus, ons Here" (Die Bybel 2020-vertaling). Dit beteken dat ons nie net ons geloof bely nie, maar dit uitleef in ons dag tot dag lewe, deur ons toewyding en lojaliteit aan Jesus te wys in al ons dade en besluite.

Om Verskille met Liefde te Omhels

Wanneer ons met mense omgaan wat anders dink as ons, moet ons besef dat ons woorde en dade diep seer kan veroorsaak en verdeeldheid kan saai. Soms is ons opinies so sterk dat ons ander mense eenvoudig nie kan raaksien nie. Dit gebeur so baie da tons oor mense maar nie met mense praat nie.  Die oproep is on te stop en te begin luister. As ons die agtergrond en omstandighede van ander begin verstaan, besef ons dat ons eie waarheid nie altyd die enigste waarheid is nie. Die erkenning van verskille vereis nie net respek nie, maar ook voortdurende liefde. Om werklik iemand anders te verstaan, moet ons verby ons eie aannames en perspektiewe kyk. Dit kan help om die gaping tussen mense met verskillende sienings te oorbrug en kompromië te vind. Die bou van ons identiteit rondom kernwaardes, eerder as opinies, kan ons help om minder weerstandig teenoor verandering te wees.

Erkenning van Kompleksiteit

Terwyl verskille mag bestaan, moet liefde ons leiding gee in die strewe na waarheid, met twyfel as 'n katalisator vir reformasie en persoonlike groei. Baie keer word sake voorgestel asof daar net twee keuses is: reg of verkeerd. Hierdie swart-en-wit benadering laat min ruimte vir nuanses en verskeidenheid van perspektiewe. In werklikheid is die meeste sake kompleks en het hulle verskeie moontlike antwoorde en uitgangspunte. As ons hierdie realiteit besef, kan ons meer oop wees vir nuwe idees en standpunte. Dink daaraan: as daar geen twyfel was nie, sou daar geen wetenskaplikes of ontwikkeling wees nie. Twyfel is 'n noodsaaklike deel van groei en vooruitgang. Wanneer iemand 100% seker is dat hulle reg is, kan dit jou blind maak vir moontlik die waarheid.

Ons moet ons kerklike identiteit bou op die Bybelse kernwaardes wat duidelik in die apostoliese geloofsbelydenis uitgelig word, eerder as op bybelinterpretasies wat kan verander en wat deur ons menslikheid beinvloed word.  Dit is aanvaarbaar om van mekaar te verskil en tog in liefde te bly strewe na die bevordering van die waarheid. Twyfel is 'n natuurlike deel van die reformasieproses en persoonlike groei, maar verdeeldheid is 'n ander saak. Dit is wanneer liefde in die gedrang kom en ons die perspektief van die weklike waarheid verloor.

Ek bid dat ons die hangende oproep tot verbandsverbreking ernstig bedink in gebed en te verseker dat ons elkeen 'n bydrae lewer tot die gesprek, terwyl ons bid vir die oorwinning van Jesus.

Recent Posts

See All
Inspirasie vir jou geloofspad

Inspirasie vir jou geloofspad Die geloofspad is 'n reis vol uitdagings, vrae en besluite. Dit is belangrik om ondersteuning en...

 
 
 

Comentários

Avaliado com 0 de 5 estrelas.
Ainda sem avaliações

Adicione uma avaliação
Comments

שיתוף המחשבות שלךהתגובה הראשונה יכולה להיות שלך.
bottom of page