Wat is ‘n Christosentriese Wêreldbeeld?
- Andre Mouton
- Jan 30
- 4 min read
Updated: Apr 6
‘n Christosentriese wêreldbeeld erken die belangrikheid van waarheid, en sê: "Ons ken die waarheid deur ‘n verhouding met Christus, nie net deur intellektuele kennis nie." (Johannes 17:3). ’n Christosentriese wêreldbeeld is dus ‘n manier van dink en leef waarin Jesus Christus die sentrale punt is. Dit beteken dat alle aspekte van die lewe – van etiek en moraliteit tot politiek, wetenskap, en persoonlike verhoudings – deur die lens van Christus se lewe, leerstellings, dood en opstanding beskou word. Die Kern hiervan is dat ‘n Christosentriese wêreldbeeld nie net ‘n intellektuele posisie is nie, maar ‘n manier van leef. Dit beteken om te sê: "Nie ek nie, maar Christus in my." (Galasiërs 2:20) Dit verskil van ‘n kultuurchristelike of fundamentalistiese wêreldbeeld, waar mense ‘n sekere tradisie of moraliteit as die kern van geloof sien, eerder as Jesus self. Ek wil probeer om die betekenis van 'n ware Christus fokus in meer diepte bespreek:
Die Grondslag van ‘n Christosentriese wêreldbeeld is geanker in wie Jesus is en wat Hy gedoen het. Christus is die Openbaring van God. Johannes 1:14 sê: “Die Woord het vlees geword en onder ons kom woon…” Jesus is die volmaakte openbaring van God se karakter. ‘n Christosentriese wêreldbeeld sien God nie primêr as ‘n abstrakte idee of ‘n streng regter nie, maar as ‘n lewende Persoon in Jesus. Johannes 14:6: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Verlossing kom nie deur ons eie prestasies of moraliteit nie, maar deur ‘n verhouding met Christus.· Dus is Christus die Middelpunt van Verlossing.
Filippense 2:5 sê: “Julle gesindheid moet wees soos dié van Christus Jesus.” Dit beteken dat ons nie net moet glo in Jesus nie, maar soos Hy moet leef. Dit se dus dat Christus die Model vir Hoe Ons Leef is.
‘n Christosentriese wêreldbeeld verskil van ‘n Sekulêre Wêreldbeeld wat sê: "God is nie nodig om waarheid en betekenis te bepaal nie." ’n Christosentriese wêreldbeeld sê: "Alles in die skepping het ‘n doel in Christus en bestaan deur Hom" (Kolossense 1:16-17).Teenoor ‘n Moreel-Gedrewe Christelike Wêreldbeeld waar mense glo Christenskap gaan oor morele rëels en goeie dade. Dit skep ‘n wettiese, prestasie-gebaseerde geloof. ‘n Christosentriese wêreldbeeld sê egter: Moraliteit is ‘n vrug van ‘n verhouding met Christus, nie die fondasie van geloof nie. Ons leef reg nie omdat ons vrees om verwerp te word nie, maar omdat Christus ons reeds aanvaar het. Teenoor ‘n Politiek-Gedrewe Christelike Wêreldbeeld waar geloof aan sekere politieke ideologieë (bv. nasionalisme, kapitalisme of sosialisme) gekoppel word. ’n Christosentriese wêreldbeeld plaas nie politiek bo geloof nie, maar vra: "Hoe sou Jesus in hierdie situasie optree?" Dit maak nie dat ‘n Christen apaties is oor maatskaplike sake nie, maar dit beteken dat lojaliteit aan Christus belangriker is as lojaliteit aan ‘n politieke party of ideologie.
‘n Christosentriese wêreldbeeld waar Jesus werklik sentraal is, is waar liefde en genade die Primêre Dryfveer is. Jesus het gesê:“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is: as julle mekaar liefhet.” (Johannes 13:35). ’n Christosentriese wêreldbeeld is nie gebaseer op veroordeling of meerderwaardigheid nie, maar op liefde – selfs vir ons vyande.
Ons moet nederigheid bo mag en status stel; Filippense 2:7-8 wys dat Jesus homself verneder het tot die vorm van ‘n dienskneg. ’n Christosentriese wêreldbeeld soek nie mag en invloed nie, maar dien ander in nederigheid.
Baie mense plaas hul hoop in politieke partye, ekonomiese stelsels, of selfs in godsdiens self. ’n Christosentriese wêreldbeeld sê: Jesus is ons enigste ware hoop (Romeine 15:13). Die Koninkryk van God is nie van hierdie wêreld nie (Johannes 18:36).
Jesus het homself geïdentifiseer met die uitskot van die samelewing: Die armes (Lukas 4:18), die sondaars (Markus 2:16-17), die vergete mense (Matteus 25:40). "n Christo-sentriese wêreldbeeld fokus nie net op selfgeregtigheid nie, maar op omgee vir die randfigure van die samelewing.
Baie Christelike wêreldbeskouings fokus op dogma, leerstellings en tradisies. ‘n Christosentriese wêreldbeeld erken die belangrikheid van waarheid, maar sê: "Ons ken die waarheid deur ‘n verhouding met Christus, nie net deur intellektuele kennis nie." (Johannes 17:3)
Hoe lyk ‘n Christosentriese wêreldbeeld dus in die alledaagse lewe?
In die Werkplek: Werk word nie net oor geld of selfvervulling gesien nie, maar as ‘n manier om God te eer (Kolossense 3:23).
In Politiek: Jy meet ‘n politieke beleid nie net aan hoe dit jou persoonlik bevoordeel nie, maar vra: “Hoe pas dit by die waardes van Christus?”
In Verhoudings: ‘n Christosentriese wêreldbeeld sê liefde is nie net emosie nie, maar ‘n opoffering (Efesiërs 5:25).
In Krises: Wanneer die wêreld in chaos is, bou jy jou hoop nie op omstandighede nie, maar op Christus (Hebreërs 6:19).
In Die Kerk: In plaas daarvan om jou geloof oor jou eie gerief of voorkeur te maak, vra jy: "Hoe kan ek Jesus beter dien deur sy liggaam (die kerk)?"
Die Grootste Uitdaging van ‘n Christosentriese Wêreldbeeld is selfsug en ego. Dit vra ons om ons eie begeertes prys te gee wat beteken dat ons soos Jesus moet leef, selfs as dit ongewild is. Dit vra dat ons liefde vir mense belangriker is as ons eie regverdiging.
Dit is hieroor dat baie mense eerder ‘n politieke of kulturele weergawe van Christenskap kies, want dit is makliker as om Jesus regtig te volg.
Hoe weet jy dan nou of jou wêreldbeeld waarlik Christosentries is? Hier is drie vrae wat jou sal help bepaal of jou wêreldbeeld regtig gefokus is op Jesus, of net op ‘n idee van godsdiens:
· Plaas ek Jesus regtig bo ALLE ander lojaliteite – selfs bo my kultuur, my politieke oortuigings en my persoonlike voorkeur?
· Word my geloof gekenmerk deur liefde, genade en diensbaarheid – of deur veroordeling en meerderwaardigheid?
· Is ek bereid om my eie gemak, status en begeertes te laat vaar sodat Christus in my sigbaar kan wees?
As die antwoord "nee" is op enige van hierdie vrae, is daar steeds groei nodig om ‘n werklik Christosentriese wêreldbeeld te ontwikkel.
Die Kern hiervan is daarom dat ‘n Christosentriese wêreldbeeld nie net ‘n intellektuele posisie is nie, maar ‘n manier van leef. Dit beteken om te sê: "Nie ek nie, maar Christus in my." (Galasiërs 2:20)
Commenti